Ons praat met Jesus oor sy lyding | Ek is dors

Ontmoet Chanelle Maree, musiekleier van die familiediens
Onverwagste genade op die lewenspad

In hierdie Lydenstyd gesels ons telkens met Jesus oor een van sy kruiswoorde. Vandeesweek, die vyfde kruiswoord:

Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” Daar het ‘n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n marjoleintak en bring dit na sy mond. Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” Johannes 19:28–30 (Die Bybel – 2020 Vertaling)

Woorde uit die wêreld om ons:

The days are okay I watch the TV in the afternoons If I get lonely, The sound of other voices, Other rooms are near to me I’m not afraid

The operator, She tells the time, It’s good for a laugh There’s always radio, And for a dime I can Talk to God – Dial-a-Prayer Are You there? Do You care? Are You there?

(Uitreksel uit “In The Winter” – een van die snitte in Janis Ian se album, Between the Lines (1975)

Woorde van die kerk vir ons:

Lied 163

Soos ’n wildsbok wat smag na water, smag my siel na U, o Heer. U alleen is my hartsverlange

en ek bring aan U die eer. U alleen is my bron van krag; in u teenwoordigheid wil ek wag. U alleen is my hartsverlange en ek bring aan U die eer.

Woord van God tot ons:

· Die ankerteks vir die week se gebed, is Johannes 19:28–30, en is reeds aan die begin, net onder die opskrif aangehaal.

· Ander tekste wat die gebed hieronder bëinvloed het:

o Numeri 20:2–8 (Die Lewende Bybel) Daar was nie drinkwater vir die groot klomp mense nie. Hulle het toe vergadering gehou om die griewe wat hulle teen Moses en Aaron gehad het te bespreek. Hulle het Moses verwyt en gesê: “Dit sou vir ons baie beter gewees het as ons liewers ook saam met ons volksgenote gesterf het daar by die aanbiddingstent. Hoekom het jy die Here se volk hier na die woestyn toe gebring om ons en ons vee hier te laat doodgaan? Hoekom het jy ons ooit uit Egipte uitgebring na hierdie verskriklike plek toe? Hier is net mooi niks—nie graan of vye of druiwe of granate nie—hier is nie eers drinkwater nie!” Moses en Aaron is toe uit die vergadering uit weg en het by die ingang van die aanbiddingstent neergeval met hulle gesigte na die grond toe. Die Here kom toe na hulle toe met die helder lig van sy teenwoordigheid, en sê vir Moses: “Vat die kierie en dan laat jy en jou broer Aaron die mense almal bymekaarkom by die rots. Daar voor hulle almal moet jy dan met die rots praat en sê daar moet water uitkom. Op dié manier sal jy water uit die rots laat uitkom, en dit sal genoeg wees vir al die mense en hulle vee om te drink.”

o Psalm 1:3 (Die Bybel – 2020-vertaling) So iemand sal wees soos ‘n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy.

o Psalm 23:1–2 (Die Bybel – 2020-vertaling) Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my.

o Johannes 4:5–10 (Die Bybel – 2020-vertaling) Hy kom toe by ‘n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat

Jakob aan sy seun Josef gegee het. Dit is waar die fontein van Jakob was. Uitgeput van die reis, het Jesus net daar by die fontein gaan sit. Dit was ongeveer die sesde uur. Daar kom toe ‘n vrou uit Samaria om water te skep, en Jesus sê vir haar: “Gee vir My water om te drink.” Sy dissipels was reeds weg dorp toe om kos te koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?” Jode meng immers nie met Samaritane nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy van die gawe van God geweet het, en wie dit is wat vir jou vra, ‘Gee vir My water om te drink’, sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

Ons aanbiddingswoorde tot Jesus en ons dank aan Hom vir wat Hy vir ons betaal het:

O, Moses van die Nuwe Uittog

Het U, toe U dors was daar tussen die klippe op die kopbeenkoppie, onthou hoe Moses met die rots gepraat sodat water daar uitgevloei het en die dors van mens en dier geles is?

O, Goeie Herder, het U terwyl U self herderloos aan die dor hout van die kruis tussen die klippe op die kopbeenkoppie biddende verlang na die groen weivelde van Psalm 23?

O, Volmaakte Herder, Het U, toe U dors was op die kopbeenkoppie, gewens om liewer by Psalm 23 se waters rusplek en nuwe lewenskrag te vind eerder as om in die dal van doodskaduwee ingelei te word?

O Boom van die lewe, het U, toe U dors was op die kopbeenkoppie met u hele hart verstaan hoekom U nie, soos Psalm 1 se boom, met onverwelkende blare tussen waterstrome geplant kon wees nie – U wat juis u vrugte gedra het op hulle tyd, U moes die straf vir ons vrugtelose lewens dra.

Ons ken die antwoorde nie, maar ons weet dat U dors was sodat ons soos die vrou by die fontein nooit weer dors sal hoef te word nie. Sy wat haar lewensdors eers op ander maniere probeer les het, het gevind dat die lewende water wat uit U vloei, haar verkwik het, vir ewig, verkwik het.

Rondom ons, dors mense na sin, betekenis en liefde. Hulle wil hul dieper dors by droë fonteine les. Laat tog u Woorde, soos Moses se woorde, uit die klip van ons gesamentlike harte lewende water na hulle in hul woestyn, laat vloei.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag, en die heerlikheid tot in alle ewigheid

Amen