Ons vier ’n Suid-Afrikaanse Kersfees

Die “ongedinkte” krag agter ons gedrag
Ons dink na oor 2025 . . .

Deur:  Ds. Marius Schoombie

Die evangelie van Johannes vertel niks oor die geboorte van Jesus nie, maar tog is dit moeilik om woorde te kies wat die tyd van Advent en Kersfees beter verwoord as  Johannes 1:9:  “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld toe.”

Deur die eeue heen is die koms van Jesus Christus (die Kersverhaal) oorvertel van geslag tot geslag en van plek tot plek, totdat die verhaal ook hier in Suid-Afrika oorvertel is en op ’n unieke manier gevestig is! Elke jaar – wanneer die son langer skyn, die waatlemoene,   lietsjies en mango’s ryp word en planne vir die Desembervakansie gemaak word, berei ons ons opnuut voor op Christus se koms – wat ook vir ons, hier in Suid-Afrika, gekom het. Vandag nog hou die verhaal van Kersfees vir ons elkeen betekenis in!

DJ Opperman se gedig Kersliedjie laat ons nadink hoe die Kersverhaal in Suid-Afrika sou  kon afspeel:

Drie outas het in die haai Karoo

die ster gesien en die engel geglo,

hul kieries en drie bondels gevat

en aangestryk met ’n jakkalspad

al agter die ding wat skuiwend skyn

op ’n plakkie, ’n klip, ’n syferfontein,

oor die sink en die sak van Distrik Ses

waar ’n kersie brand in ’n stukkende fles,

en daar tussen esels en makriel

die krip gesien en neergekniel.

Die skaapvet, eiers en biltong

nederig gelê voor God se klong

en die Here gedank in gesang en gebed

vir ’n kindjie wat ook dié volk sou red . . .

Oor die hele affêre het uit ’n hoek

’n broeis bantam agterdogtig gekloek.

Kersfees se beeld is vir ons elkeen verskillend. Dit is ’n tyd van familie, feesvier, vakansie, verlange, verlies, en voorbereiding.  Waarmee jy ook al besig is in hierdie Adventstyd en hoe ook al jy Kersfees vier, mag jy onthou dat Christus vir elkeen van ons – vir almal in Suid-Afrika – gekom het.  Mag ons veral dink aan die mense wat ver van hul hartsmense is en aan diegene wat moet veg om oorlewing.  Mag ons onthou dat  die mense wat eerste vir Jesus as Koning en Here erken het, die sterrekykers en die skaapwagters was –  buitelanders en mense wat in die veld geslaap het.

Mag ons hier in Suid-Afrika Kersfees vier: deur Jesus as Here te erken en te eer; deur minder te spandeer, maar meer van onsself te gee; en mag ons ander liefhê, omdat Hy ons só liefgehad het dat Hy bereid was om tussen ons te kom woon en vir ons te wys wat ware liefde is.  Geseënde Kersfees!