Stellenberg versterk bande met Degnos in Namibië

Fokusprogram geleenthede
Ondersteun ons bedienings finansieel

Deur: Ds. René Herselman

Stellenberg-gemeente is reeds die afgelope sowat 35 jaar by boesmansending in die noordooste van Namibië betrokke. Dit het alles begin toe ds. Willem Malherbe en sy vrou, Hildegarde in 1991 vir die eerste keer die jaarlikse boemansendingkonferensie (soos dit destyds bekend gestaan het) bygewoon het. Deur die jare het Stellenberg-gemeente se verbintenis met die sendingwerk wat onder die Boesmans gedoen word, behoue gebly, danksy gereelde besoeke en finansiële bydraes.

In 2025 het ’n groep van 18 Stellenbergers Namibië besoek. Die doel van die besoek was om ons te vergewis van die huidige stand van Degnos (Diens en Getuienis Noord-Oostelike Streek) se bediening onder die boesmans. Vir die een of twee spanlede wat al voorheen in Boesmanland was, was die geestelike groei onder die boesman-gemeenskap opvallend. Hul toewyding, eenvoud en opregtheid van geloof het die span diep geraak. Die besoek het ’n diep indruk op almal gelaat  – die geloof, volharding en hoop van die mense wat daar woon en dien ten spyte van die groot uitdagings wat hulle daagliks hanteer.

Vir Stellenberg-gemeente is dit ‘n voorreg om deel van hierdie verhaal te wees. Ons glo dat sending nie bloot iets is wat ver van ons af gebeur nie, maar dat dit deel vorm van ons identiteit as gemeente. Daarom is ons besonder dankbaar dat een van ons eie lidmate nou die geleentheid ontvang het om by die bediening betrokke te raak en daar te gaan werk. Low Bothma en sy vrou, Stephne gaan vir twee jaar in Namibië by Degnos werk.

Hierdie nuwe hoofstuk herinner ons daaraan dat God steeds mense roep om te dien waar daar behoefte is. Low het uiters bekwame logistieke ervaring en Stephnie is goed gekwalifiseer in finansiële rekeningkunde. Hulle beoog om die vaardighede binne die Degnos-bediening te gebruik. Ons bid dat die Here hulle sal lei, beskerm en toerus vir die taak wat voorlê.