Totsiens, Jacques

Ondersteun ons bedienings finansieel

Ses jaar gelede het Jacques Holtzhauzen as terreinwerker by die personeelspan aangesluit. Hy was toe reeds lid van die mannegebedsgroep, en Jacques – met sy destydse kenmerkende haarstyl van lang, fyn vlegseltjies – het vinnig diep spore in kollegas en lidmate se harte getrap.

Intussen het die lang hare gewaai, Jacques het verlief geraak en met sy pragtige Janine getrou. Soos hy self getuig, het hy deur die Here se genade oor die afgelope ses jaar heen ’n ware gedaanteverwisseling ondergaan.

Toe die personeel op Woensdag 25 Junie van hierdie besonderse man afskeid neem, het kollegas hom beskryf met woorde soos vreugde, energie, liefde, entoesiasme, karakter, gewilligheid, vriendelikheid en innerlike tevredenheid. Sharon Smit het die geleentheid afgesluit met die woorde:  “Jacques, jy het ons kom wys dat waarvandaan ’n mens kom nie saak maak nie; wat belangrik is, is hoe jy vorentoe gaan.”

Jacques is onlangs ’n goeie betrekking by een van ons gereelde feesmarkuitstallers aangebied. Ons is saam met hom opgewonde en dankbaar oor hierdie geleentheid wat oor sy pad gekom het. Hy het egter belowe om gereeld by Stellenberg te kom kuier.

Mooi loop, Jacques. Mag jou lig en vreugde ook by jou nuwe werkplek helder skyn. Red.