Daarom verbind ek myself opnuut

Totsiens, Jacques
Jesus se hande en voete in Calitzdorp

Deur: Sanèl Joubert

Die fokusprogram wat later die kwartaal afskop en die onverwagse en onlangse afsterwe van my swaer het my opnuut laat nadink oor waarom ek kies myself aan Stellenberg-gemeente te verbind.

Met my swaer se skielike afsterwe moes ons vinnig reëlings tref om familie en vriende die geleentheid te gee om sy lewe te gedenk en op ‘n gepaste wyse van hom afskeid te neem.  Hy was nou wel nie ’n lidmaat van die gemeente nie, maar danksy Stellenberg se span – die koster, klankman, orrelis en een van ons emeritusleraars – kon ons met min moeite ‘n waardige gedenkdiens vir hom reël.

In Stellenberg-gemeente bied ons minstens een keer per maand ’n gedenkdiens aan vir mense wat nie lidmate van die gemeente is nie. Ons leraarspan en personeel beskou dit as deel van die gemeente se uitreikbediening: om oor grense heen uit te reik wanneer mense ondersteuning en geborgenheid nodig het, sodat hulle ook in ’n tyd van verlies en rou iets van die gemeenskap van gelowiges se gasvryheid en omgee kan ervaar.

Hierdie gebeure het my laat nadink oor hoeveel mylpale ek en my gesin oor die jare heen saam met Stellenberg-gemeente beleef het. Dit het begin met die doop van ons drie dogters in die kerkgebou. Later het ons op Sondagoggende, en daarna ook saans, in sale en vertrekke op die kerkterrein bymekaargekom vir kategese. Uiteindelik het dit uitgeloop op belydenisafleggings wat byna altyd gevolg is deur tee drink en saamkuier in die kafeteria.

Toe trou ons oudste dogter, en waar is daar nou ’n beter plek vir ’n gesellige kombuistee as juis die markplein? En ja, toe kom ook die tyd toe ’n familie moes afskeid neem van ’n geliefde pa en die volle sirkel van sy lewe saam met sy naasbestaandes in die teenwoordigheid van die Here vier – ook hier op die kerkterrein.

Ek besef nou weer opnuut dat die plek wat werklik jou tweede huis is, die gemeente is waaraan jy behoort: die plek waar jy van die belangrikste oomblikke van jou lewe vier, waar jy saam met ander groei in geloof, en waar jou naasbestaandes dalk eendag ook die sirkel van jou lewe sal voltooi.

Ek voel bevoorreg dat ek ’n tuiste in Stellenberg-gemeente het.  Maar, ’n tuiste verg instandhouding, ontwikkeling, opoffering en betrokkenheid. Dit is hoekom ek opnuut onderneem om my tyd, finansiële bydraes en energie hier te belê.  Want die huis van die Here moet mos ook ’n dak hê wat nie lek nie.