Deur: Ds. René Herselman
Elke jongmens en kind verdien om geliefd, waardevol en ondersteun te voel en verdien die geleentheid om oor ’n beter toekoms te droom en om te weet dat sy, of haar lewe ’n doel het. Dit is die motivering vir die wonderlike werk wat onder die tieners van Klipheuwel gedoen word.
Baie van dié jongmense kom uit onstabiele en uitdagende huislike omstandighede en beperkte geleenthede. Die uitsiglose omstandighede kan tot gevolg hê dat hulle hoop verloor, maar dan gebeur daar elke Vrydag iets besonders in Klipheuwel.
Die jong seuns kom bymekaar en staan as die Young Davids bekend, en die groep meisies word die Young Esthers genoem. Hierdie groepe bied aan tieners ’n veilige en verwelkomende ruimte waar hulle vriendskappe kan bou en en die sekerheid het dat daar wel mense is wat vir hulle omgee en in hulle potensiaal glo.
Saam met ’n gewaardeerde versnapering word die jongmense ook aan God se Woord en sy liefde vir die mensdom blootgestel. Deur die verhale en leringe van die Bybel word hulle daaraan herinner dat hulle omstandighede hulle nie definieer nie en dat God elkeen van hulle as kosbaar en waardevol sien en met elkeen se lewe ’n plan het.
Om die jongmense te bedien gaan oor meer as net Bybelstudie, maar juis om in jong lewens te belê. Dit bly ’n voorreg om ’n pad saam met die jongmense van Klipheuwel te stap. Ons nooi jou om Vrydag 14 Augustus om 14:00 saam met ons na Klipheuwel te gaan en ook hierdie besondere groep mense te ontmoet. Kontak ds. René Herselman met enige navrae by 079 893 8104.