
Deur: Dr. Marius Breytenbach
Christopher Nolan se rolprent The Odyssey het onlangs wêreldwyd nuwe belangstelling in een van die oudste verhale van die Westerse beskawing aangewakker. Hoewel die epos (die benaming vir ‘n epiese gedig) byna drie millennia oud is, spreek die temas daarvan steeds moderne mense aan. In ons eie wêreld wat deur konflik, onsekerheid en vinnige verandering gekenmerk word, bly die soeke na identiteit, die verlange na tuiskoms, die versoeking van mag en die waarde van wysheid, tydloos.
In die agste eeu voor Christus het die legendariese Griekse skrywer Homerus Die Ilias en Odussee, geskryf. Ná tien jaar se oorlog kon die Grieke steeds nie die stad Troje inneem nie. Volgens oorlewering het Odusseus die slim plan bedink deur ‘n groepie Griekse soldate in ‘n reusehoutperd te versteek. Die Trojane het gedink die Griekse soldate het die aftog geblaas en aangeneem dat die perd ‘n vredesoffer aan die godin Athena is en dit tot binne die stadsmure gebring. Daardie nag klim die Griekse soldate uit die perd, maak die stadspoorte oop en laat die teruggekeerde Griekse leër in om Troje te verower. Met hierdie slim oorwinning en Odusseus se daaropvolgende heldestatus, eindig die verhaal vir baie mense. Dit is egter helaas die hoogtepunt van die verhaal. Maar, Die Odussee (The Odyssey), wat minder bekend is, vertel die verhaal van Odusseus, die koning van Ithaka, se terugkeer huis toe nadat Troje verower is. En dis hier waar die skynbare sukses van die Trojaanse perd in ’n tragedie verander. Odusseus leer op die harde manier dat mag, skynbare goeie planne en die brutaliteit van oorlog, teen jou kan draai. In sy lang en uitmergelende reis na sy tuiste in Ithaka, wat 10 jaar duur, word hy verander en dit is hier waar die verhaal ons diep tref. Deur swaarkry leer hy die wysheid van van selfbeheersing, nederigheid, volharding en die vermoë om verstandig op chaos te reageer.
Nolan se IMAX-vertolking van Die Odussee is aangrypend. ’n Mens sit vir drie ure vasgenael, maar verlaat die teater met veel meer as vermaak. Daar is kritiek uitgespreek dat Nolan se rolprent net selektiewe uittreksels van Die Odussee bevat en plek-plek van Homerus se teks afwyk. Ten spyte hiervan bevat die rolprent tydlose sentrale temas wat drie millennia oud is en vandag steeds op ons moderne wêreld van toepassing is. Maar is Die Odussee waar? Dit word aanvaar dat hierdie epiese gedig, wat mitologiese elemente bevat, op legendariese oorvertelling van die Laat Bronstydperk (omstreeks 1200-1150v.C.) gebaseer is. Dit het deur mondelinge tradisies behoue gebly totdat die legendariese Homerus dit in die agste eeu v.C. neergeskryf het.
Die Laat Bronstydperk was ‘n tyd van ongekende voorspoed. Egipte, die Hetitiese Ryk, Miceense Griekeland, Assirië, Babilonië, Siprus en die groot Kanaänitiese stede was deel van ‘n uitgebreide netwerk van handel en diplomasie. Koper uit Siprus en tin uit Anatolië en Sentraal-Asië is oor groot afstande vervoer om brons te vervaardig – die belangrikste metaal van die tyd. Konings het geskenke uitgeruil, handelaars het luukse goedere versprei en geleerdes het deur middel van kleitablette met mekaar gekorrespondeer. Die bekende Amarna-briewe vanuit Egipte getuig van ‘n internasionale handelsgemeenskap in daardie tyd. Hierdie voorspoed was egter afhanklik van stabiliteit. Omdat die ekonomieë, handelsroetes en regerings so nou met mekaar verweef was, was die hele stelsel ook besonder kwesbaar. Rondom 1200 v.C. het die voorspoed van die oostelike Middellandse See-gebied skielik en onverwags tot ‘n einde gekom. Magtige koninkryke wat eeue lank gefloreer het – waaronder die Miceense koninkryke van Griekeland, die Hetitiese Ryk in Anatolië en talle stede in die Levant (Israel, Palestina, Libanon, Sirië en Jordanië) – het binne enkele dekades ineengestort. Die inploffing word vandag deur akademici toegeskryf aan ‘n ketting van gebeure waaronder aardbewings, ekologiese faktore, die ineenstorting van internasionale handel, politieke onstabiliteit en bevolkingsmigrasies. Baie kenners is van mening die grootste invloed die gevolg was van ‘n onbekende groep mense wat volgens die annale in bote oor die see gekom en stelselmatig deur oorlog die Midde-Ooste verower het. Hulle is die seevolke genoem.
Ek was bevoorreg om in 2012 en 2014 in Aseka in Israel op te grawe, waarin ons op hierdie vernietigingslaag van die Laat Bronstydperk afgekom het. In die meegaande foto wat in Aseka geneem is, kan die oorskot van ‘n jong vrou gesien word. Sy het omgekom toe ‘n brandende gebou tydens ‘n aanval op die stad haar in hierdie posisie vasgepen het. Terwyl ’n mens gekniel die grond versigtig wegborsel om die vernietingslaag te ondersoek, tref die werklikheid waaroor Homerus in Die Odussee skryf, jou. Dit is presies dieselfde realiteit waaroor die Bybelprofete gewaarsku het en wat tot die ondergang van die koninkryk van Israel (722 v.C.) sowel as Juda (586 v.C.), aanleiding gegee het.

Die simbool van die Trojaanse Perd herinner ons daaraan dat ons grootste gevaar dikwels nie in ons swakheid lê nie, maar in ons misplaaste gevoel van meerderwaardigheid. Deur die geskiedenis heen het nasies, leiers en selfs individue geglo dat hulle militêre mag, tegnologiese vooruitgang, ekonomiese invloed of politieke oorheersing hulle onaantasbaar maak. Sukses, soos die van Odusseus kan die illusie skep dat ons alles onder beheer het, dat ons prestasies ons veiligheid waarborg en dat ons wysheid groter is as dié van ander mense en groepe. ‘n Trojaanse Perd ontmasker hierdie illusie. Wat op die oog af die Grieke se grootste triomf was, word uiteindelik ‘n monument van die verleiding van mag en selfverheffing. Homerus toon aan dat die oorwinning wat deur buitengewone vernuf en strategiese slimheid behaal is, nie ‘n tydperk van vrede ingelui het nie. Inteendeel, dit is gevolg deur jare van lyding, verlies en onsekerheid – selfs vir baie van die oorwinnaars. Die simbool van hulle grootste prestasie het terselfdertyd ‘n herinnering geword dat menslike hoogmoed dikwels die saad van sy eie ondergang in hom dra.
Hierdie les is vandag net so relevant. Ons leef in ‘n wêreld waar nasies steeds meeding om militêre oorheersing, ekonomiese mag en geopolitieke invloed. Nuwe tegnologieë beloof ongekende vermoëns, terwyl politieke en ideologiese verdeeldheid gemeenskappe laat glo dat veiligheid bereik kan word deur sterker, slimmer of magtiger as ander te wees. Tog bewys die geskiedenis telkens dat die onversadigbare strewe na mag dikwels nuwe konflik skep eerder as blywende vrede. Wapens wat bedoel is om veiligheid te verseker, kan vrees en wantroue verdiep. Ekonomiese mededinging kan ongelykheid vergroot. Politieke oorwinnings kan die saad van toekomstige verdeeldheid saai.
In die tyd toe Homerus in Griekeland Die Odussee skryf, het die teks van die Ou Testament ‘n teologies vormende tydperk beleef. Ou Testamentiese profete, verhale en gedigte waarsku dat die grootste bedreigings vir die mensdom nie altyd van buite af kom nie, maar dikwels ongemerk binne-in ons groei: trots, arrogansie, selfoorskatting en die oortuiging dat ons beter of belangriker as ander is. Wanneer prestasie nie meer deur nederigheid, wysheid en deernis begrens word nie, kan ons grootste suksesse ons grootste kwesbaarhede word tot ons eie en ondergang lei.