Sopher Simlah – ’n unieke klerereeks deur Janita Toerien

Annibrand Senior Kleingroepleier FAQ

Janita Toerien is ’n lidmaat van Stellenberg, ’n teologiestudent, ’n gerekende klereontwerper en skepper van trourokke. Nou is sy ook die eienaar van ’n splinternuwe klerereeks genaamd Sopher Simlah – die Hebreeuse woorde wat vertaal kan word as Sopher – iemand met kennis en Simlah as ’n kledingstuk. Die klerereeks, met geborduurde Hebreeuse woorde uit die Skrif, het saam met haar studie in teologie aan die Hugenote Kollege in Wellington vorm gekry.

Janita vertel dat sy meer as 20 jaar in die modebedryf gewerk het. Aanvanklik was sy by ’n kettingwinkel vir mansklere betrokke, maar ná twee jaar in die mansklerebedryf het sy ’n radikale verandering gemaak en begin om trourokke te ontwerp en te vervaardig.

Die kreatiewe proses rondom die vervaardiging van unieke rokke het vir haar baie hoogtepunte en mylpale besorg. Ongelukkig het die Covid 19-pandemie ook dié soort ondernemings swaar getref en die funksionering van die bedryf onherroeplik verander.

Net so uniek soos elke rok wat Janita met haar eie hande vervaardig het, is die lewenspad wat sy self stap.

In 2024, ná ongeveer 12 jaar se wegbly van die kerk en godsdiens, het haar pad met The Bible Project gekruis.

“Ná jare se vrae wat ek aan God gerig en dikwels uitgeskreeu het, het die manier waarop die Bybel deur dié materiaal verduidelik word, my geweldig geïnteresseer. Die perspektiewe wat hulle bied, het my nuuskierigheid geprikkel en ek wou net meer en meer leer.

“In dieselfde tydperk het verskeie mense my lewenspad gekruis wat ook met soortgelyke vrae as my eie oor geloof en godsdiens geworstel het. Ek het myself op ’n plek bevind waar ek graag vrae wou beantwoord, maar gevoel het dat ek te min kennis het.

“’n Gesprek met ds. René Herselman het my uiteindelik na die Hugenote Kollege en teologie as studierigting gelei. So het een ding op ’n ander gevolg en voor ek my kom kry, was ek ingeskryf vir ’n Sertifikaat in Teologie (KAST) aan die Hugenote Kollege.”

Die kursus het haar heeltemal onkant gevang.

“Die vordering wat die NG Kerk gemaak het ten opsigte van denke en perspektiewe, asook die oop gesprekke rondom moeilike onderwerpe, was vir my inspirerend – veral wanneer ek dit vergelyk met die kerk van die negentigerjare wat my en soveel ander mense soms onnadekend seergemaak het.

“Die kollege het my aangemoedig om verder te studeer en nou beoog ek om die graadkursus in Teologie aan te pak.  Ek is opgewonde om deel te wees van ’n moderne kerk waar ons nie voorgee om antwoorde op alle vrae te hê nie en waar verskille nie noodwendig verdeeldheid hoef te veroorsaak nie.

“Ek moes toe dringend ’n plan beraam om die koste van my studies en lewenskoste te dek en dit is hoe Sopher Simlah ontstaan het.”

Sopher Simlah is ’n platform waar woorde kledingstukke word, kledingstukke geleenthede skep, en geleenthede stories word.

  • Elke kledingstuk begin met ’n woord wat die moeite werd is om te verken.
  • Elke aankoop help om in volwassenes te belê wat verdere opleiding nastreef.
  • En elke storie herinner ons daaraan dat ons almal steeds besig is om te word.

Volg gerus Sopher Simlah op Instagram en besoek ook die webwerf. Die webwerf sal binnekort gereed wees vir aankope.

Janita se energie en entoesiasme is aansteeklik. Met haar visie wil sy nie net haar eie studies moontlik maak nie, maar ook aan ander die geleentheid bied om hulself te ontwikkel, hul drome na te streef en nuwe stories te skryf.