Harde werk vir die feesmark het al begin

Waaroor ons nié praat wanneer ons oor selfdoodvoorkoming praat ni
Ontmoet vir Izak Burger, nuwe kerkraadslid

Susan van Zyl se heerlike vrugtekoeke het min bekendstelling nodig.  Sy vertel dat sy ’n maand voor die feesmark daagliks 36 vierkantige vrugtekoeke en 96 kleintjies bak.  Mettertyd sal sy ook daagliks 24 van die heel groot koeke begin bak.

Susan en haar twee seuns wat haar help, Charl en Ruan, is al soggens halfvyf uit die vere om bestanddele af te weeg sodat sy voorbereid is vir die dag se bakwerk.  Maretha Hattingh help ook elke dag om al die vrugtekoeke te verpak en met kleurvolle linte te versier.

Susan sê dat sy ten minste 288 bottels brandewyn koop waarmee die vrugtekoeke gedokter word om te verseker dat hulle klam is en lekker lank vars bly.  Haar resep is wel ’n geheim.  “Dit is nie ’n familieresep nie.  My ma het nog destyds ’n pondkoek gebak wat nie baie ekonomies in vandag se dae sou wees nie.  Ek het die resep raakgeloop en dit oor die jare heen aangepas en verfyn sodat dit flatervrye vrugtekoeke oplewer,” vertel Susan.

“Ek sal enige ander resep deel,” skerts Susan, “maar net nie dié een nie!”