

Ons is opgewonde om Ingrid Dave vanjaar vir die eerste keer as uitstaller by die feesmark te verwelkom. Die 25-jarige Ingrid is ’n pottebakker van Bettysbaai. Elke artikel wat sy verkoop, word met die hand gemaak en is uniek. Ingrid is met gesiggestremdheid gebore. Daarom speel die gebruik van haar hande in die vormingsproses van die klei-artikels ’n belangrike rol en dra dit ook by tot die uniekheid van elke item.
Ingrid vertel dat sy aanvanklik met pottebakkery as stokperdjie begin het. Die afgelope drie jaar het sy, onder die leiding van die bekende pottebakker Lynn Joubert, haar stokperdjie tot ’n voltydse loopbaan uitgebou. Sy verkoop haar handgemaakte produkte by verskeie winkels in Hermanus, asook by markte.
Sy kan ongeveer tien bekers en twee bakkies of borde per dag maak. Daarna volg die droogproses, die vuurproses en die glasering. Dit is dus ’n tydsame proses, maar die eindprodukte verskaf groot vreugde.
Ingrid maak bekers, bakkies, borde en ook lepelstelle. Alles is in pragtige aardse kleure en is ontwerp om sowel mooi as prakties te wees – ’n aanwins vir enige tafel.
Ingrid se handewerk word in die heel eerste tent uitgestal. Maak seker dat jy tussen 21 Oktober en 7 November ‘n draai by die feesmark maak om dit te siene te kry. Die mark is weeksdae vanaf 10:00 tot 20:00 oop en op Saterdae vanaf 09:00 tot 18:00. Op Saterdag 7 November sluit die mark om 14:00.