
Deur: Dr. Marius Breytenbach
“Wat ons met dankbaarheid gee, vloei voort uit die oorvloed wat God reeds in ons harte laat groei het.”
Die laaste kwartaal van die jaar bekruip ons dikwels onverhoeds. Saam met die wisseling van die seisoen kom die skielike besef dat nóg ’n jaar byna verby is en dat Kersfees en Nuwejaar om die draai lê. Ons betree die pylvak van die jaar met ’n besige program en die uitdaging om genoeg energie bymekaar te skraap om alles betyds af te handel voordat die Desember-feestyd aanbreek.
Tog wek hierdie tyd van die jaar by ons as gemeente ook ’n besondere geestelike bewussyn – een wat nuwe energie in ons wakker maak en ons lewe met nuwe betekenis vul. Gedurende die laaste agt weke van die skoolkwartaal staan ons daarom stil by “dankbaarheid”.
Dankbaarheid is veel meer as ’n emosie wat ons ervaar wanneer iets goeds met ons gebeur, of wanneer ons tevrede is met ons omstandighede. Dit is ’n diep geestelike bewussyn wat in ons posvat wanneer ons ontdek dat ons lewe, ons vermoëns en alles waaroor ons beskik, gawes uit God se hand is.
In 1 Korintiërs 4:7 vra Paulus: “En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?”
In hierdie eenvoudige vraag lê ’n besondere geheim opgesluit. Dankbaarheid is nie bloot die gevolg van God se goedheid nie; dit word ook die ruimte waarin sy genade nuwe lewe in ons wakker maak. Dit herinner ons aan die oorvloed wat God reeds deur die jaar in ons harte versterk het. Waar ons dikwels net bewus is van wat nog gedoen moet word, help dankbaarheid ons om weer raak te sien wat ons reeds ontvang het.
Dankbaarheid vervul ons met nuwe energie, omdat dit ons aandag verskuif van wat ons kortkom, na die oorvloed van God se genade. Dit maak ons harte oop en noop ons in beweging om dit wat ons ontvang het, met ander te deel.
Hoe voel jy oor die laaste paar weke van die jaar wat voorlê? Is jy moeg, oorlaai of dalk bekommerd oor alles wat nog afgehandel moet word? Wees dan in hierdie tyd opnuut bewus van hoe die Here ons deur sy genade wil vernuwe en lei:
Ons nooi jou hartlik uit om ons reeks eredienste met die tema: In die hand van die Pottebakker, by te woon. Ons gaan saam ontdek hoe God voortdurend besig is om ons te vorm en te vernuwe. Ons nooi jou ook uit om jou dankbaarheid op ’n tasbare te toon deur ’n bydrae tot ons Tiende-offer te oorweeg. Ons dankoffers is ’n uitdrukking van ons dankbaarheid.
Die voortgang van ons gemeente se bedienings en die uitlewing van ons roeping is slegs moontlik danksy die getroue finansiële ondersteuning van ons lidmate. Ons dankoffers bestaan hoofsaaklik uit drie vorme van bydraes:
Ons gee nie omdat ons verplig voel nie, maar omdat ons dankbaar is vir wat ons reeds uit God se hand ontvang het. Elke bydrae, groot of klein, word deel van die wyse waarop ons as gemeente saam ons roeping uitleef en God se liefde sigbaar maak.
Mag hierdie laaste kwartaal vir ons meer wees as net die afsluiting van nóg ’n besige jaar. Mag dit ’n tyd van geestelike vernuwing wees waarin God se genade nuwe dankbaarheid, nuwe krag en nuwe lewe in ons wek.
Want wat ons met dankbaarheid gee, vloei voort uit die oorvloed wat God reeds in ons harte laat groei het.