Elna se kunswerke uit materiaal

Ek is wat ek is: ’n kreatiewe geestelike joernaal te koop by die feesmar
Wat vier ons op Hervormingsondag?

Elna Teubes van Moorreesburg bruis van energie en haar lewe is ’n getuienis van ’n lewende verhouding met die Here.

Elna vertel dat sy  20 jaar lank saam met bekende ontwerpers trourokke gemaak het.  Sy het toe regtig bykans dag en nag gewerk en eintlik haar man dikwels afgeskeep – en skielik is hy op die vroeë ouderdom van 49 jaar, sonder enige waarskuwing of tyding oorlede.  Dit het haar tot die besef gedwing dat sy haar tyd anders moet bestuur.

“Dit was asof die Here baie hard en duidelik met my gepraat het,” sê Elna.  “Ek het die boodskap gekry dat ek meer op die mense om my moet fokus en minder op die maak van rokke. Toe skuif ek agter die naaimasjien uit en los die rokmakery en begin by my skoonseun werk.  Toe ek 68 jaar oud geword het, moes ek aftree en ek was baie angstig oor waarmee ek myself gaan besig hou na my aftrede.  Ek het in daardie tyd baie gebid en die Here gevra om vir my te wys wat ek moet doen nadat ek aftree.

“En daar droom ek toe een nag van speelmatte vir babas en ek sien die prentjie van hoe so ’n speelmat lyk.  Die volgende oggend maak ek toe die  speelmat, presies soos ek dit in my droom gesien het.  Ek het steeds daardie eerste mat wat ek gemaak het en van toe af is dit wat ek doen – ek maak speelmatte en kwilts vir babas.  Alles in die matte en die kwilts word met die hand gemaak.  Die kwilts het elkeen ’n geborduurde prentjie van ’n diertjie wat ek ook met die hand borduur.

“Ek het ongeveer 10 jaar gelede weer getrou en my man was onlangs baie siek.  Ek het baie ure langs hom in die hospitaal gesit en die kwilts se prentjies met die hand borduur terwyl ek by hom sit.”

Elna se skeppings is werklik kunswerke.  Sy verkoop haar handewerk op ’n aanlyn platform en by markte.  Haar stalletjie, Olke Bolke, is in die tent wat parallel met Mountain Viewrylaan loop.  Moenie die pragstukke misloop nie.