Ek is wat ek is: ’n kreatiewe geestelike joernaal te koop by die feesmar

Tiende-offerfees uit dankbaarheid: Wanneer God se genade nuwe lewe in ons aanwakker

Marius en Pauline Schoombie, die skrywers van ’n unieke geestelike joernaal, vertel dat die gedagte om self ’n geestelike joernaal te ontwikkel by hulle ontstaan het toe hulle na so ’n joernaal gesoek het. Hulle was op soek na iets wat ’n mens sou help om kreatief te wees en nie wat namens jou dink nie, maar jou eerder begelei om dieper in jou eie gedagtes te delf.

“Toe ons nie so iets kon vind nie, het ons besluit om self iets soortgelyks te skryf wat ons kan help om in ons verhouding met God te groei. Die idee het gespruit uit ons liefde vir God, asook ’n behoefte om onsself beter te leer ken. Ons het begin dink aan maniere waarop ’n mens jou geloof op ’n meer persoonlike, tasbare en kreatiewe manier kan uitleef.

Ons wou ’n tipe “handleiding” skep wat mense sal help om ’n bietjie stadiger te leef, tyd saam met God deur te bring en op ’n nuwe en vars manier met hul geloof om te gaan. Só het EK is wat ek is begin vorm aanneem: ’n kunsjoernaal waarin Skrif, oordenking en kreatiwiteit saamgevoeg word. Die inspirasie vir die titel kom uit 1 Korintiërs 15:10: ‘Maar deur die genade van God is ek wat ek is.’”

Marius en Pauline spreek die hoop uit dat die joernaal vir mense ’n uitnodiging sal wees om stadiger te leef, as’t ware asem te haal en weer ruimte te maak vir hul verhouding met God. “Ons wil hê mense moet onthou dat hulle nie eers iets hoef te bereik, reg te kry of perfek te wees voordat hulle na God toe kan kom nie. Genade is juis die vertrekpunt. Die joernaal gaan oor identiteit, geloof, kreatiwiteit en die mooi, morsige proses van menswees en groei. Dit is ’n uitnodiging om te wees wie jy is en te ontdek wie jy in God is deur op ’n skeppende manier deur die Skrif te wandel.

“Elke gedeelte bevat dus oordenkings, soms vrae, asook Skrifgedeeltes wat by die kunste aansluit, en dan ’n uitnodiging om self iets te doen of te maak. Dit beteken jy kan skryf, teken, skeur, plak, met modder of koffie werk, of eenvoudig op regtig énige manier elke bladsy benut.

“Dit is belangrik om te onthou dat daar nie ’n regte of verkeerde manier is om die joernaal te gebruik nie. Dit gaan nie oor ’n perfekte eindproduk nie, maar oor die proses. Ons droom is dat dit vir mense ’n veilige ruimte sal skep om eerlik met God, hulself en oor hul eie geloofsreis te wees.”

Marius en Pauline se raad aan iemand wat graag hul geestelike lewe wil verdiep, is: “Begin klein en waar jy is. Jy hoef nie ’n uur elke oggend opsy te sit of ’n ingewikkelde geestelike roetine te volg om jou verhouding met God te verdiep nie. Begin dalk met vyf minute se stilte; ’n paar verse uit die Bybel; ’n gebed; of deur ’n paar gedagtes in ’n joernaal neer te skryf.

“Wees ook eerlik. Jy hoef nie vir elke vraag ’n antwoord te hê of altyd sterk in jou geloof te voel nie. Maak ruimte vir die moeilike vrae, vir dankbaarheid, vir twyfel en vir verwondering. En moenie onderskat hoe waardevol dit kan wees om jou geloof ook skeppend uit te leef nie. Skryf, teken, maak iets met jou hande, gaan stap in die natuur of sit eenvoudig ’n rukkie stil en let op wat rondom jou gebeur. Soms help dit ons om dinge raak te sien waarvoor ons nie altyd woorde het nie.

“Die belangrikste is dalk om te onthou dat geestelike verdieping nie ’n prestasie is wat jy moet behaal nie. Dit is ’n verhouding waarin jy mettertyd groei.”

Die joernaal was verlede jaar vir die eerste keer by die feesmark te koop. Pauline en Marius vertel dat die bekendstelling van hul joernaal by die feesmark vir hulle ’n besondere ervaring was. “Wanneer jy ’n boek skep, weet jy natuurlik wat jy daarmee wil sê, maar dit is ’n ander ervaring om te sien hoe ander mense daarop reageer en watter dele by hulle byval vind.”

Hulle was baie dankbaar toe al 300 boeke wat hulle laat druk het, uitverkoop het en mense hulle ná die feesmark gekontak het om eksemplare te bekom.

Dié twee skrywers is kranige lesers en vertel dat hulle hou van boeke wat hulle ’n bietjie van die werklikheid verwyder en na ander wêrelde meevoer. Boeke wat hulle iets nuuts leer of hulle help om die wêreld en mense beter te verstaan, is ook van hul gunstelinge.

Pauline vertel: “Ek en Marius is albei lief vir fantasie, met ’n spesiale liefde vir Terry Pratchett se Discworld-boeke. Die feit dat ons vier diere in die huis se name Gandalf, Galadriel, Arwen en Gimli is, behoort ook iets van ons boekvoorkeure te verklap.

“Ons het ook ’n groot liefde vir wetenskapboeke. Ons is tans besig om Togetherness deur Rowan Hooper te lees. Die boek neem ons op ’n verstommende ontdekkingsreis deur die natuur se verborge vennootskappe en wys hoe lewe nie net deur kompetisie nie, maar juis deur samewerking en onderlinge verbondenheid floreer. Sulke boeke neem ons dieper in die misterie van die skepping en van die Skepper.”

Oor hul toekomsplanne vertel hulle dat die aankoms van hul seuntjie by hulle die droom van ’n geloofsjoernaal vir kinders laat ontstaan het. Boeke wat by die kerklike jaar aansluit, met temas soos Advent, Lydenstyd en Pinkster, is ook iets waaraan hulle dink.

Maak seker dat jy vanjaar dié besondere joernaal, vol tekste, tekeninge en ’n hele klomp kreatiewe idees, by die feesmark onder die oë kry.  Die boek word in Saal F, die groot tent wat parallel met Mountain Viewrylaan staan, uitgestal.