Dagstuk | Dinsdag 16 Julie 2024

Dagstuk | Maandag 15 Julie 2024

Dinsdag 16 Julie

Hierdie week reis ons deur die storie van Saggeus. Vandag reflekteer ons vêrder oor die eerste gedeelte van die verhaal:

Lukas 19:1-3

 

1Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan.

 

Refleksie

Daar was ’n klomp dinge wat in Saggeus se pad gestaan het om vir Jesus te sien. Hy was kort, hy was ryk, hy was ’n tollenaar vir wie ander mense nie baie lief was nie. Ryk mense is in daardie tyd as diewe beskou en daarom lees ons later dat mense sou opmerk: Jesus gaan by ’n sondige man tuis! Saggeus het fisiese en sosiale hindernisse in die gesig gestaar. Tog het hy hom nie deur die struikelblokke laat keer nie. Hy het sy eer en ego op die spel geplaas deur te hardloop (iets wat volwassenes nie sommer in normale omstandighede sou doen nie) en in ’n boom te klim (iets wat volwassenes nog minder sou doen). Sy begeerte om vir Jesus te sien was groot genoeg dat hy bereid was om homself te verneder in die oë van die samelewing om die struikelblokke in sy pad te oorkom, sodat hy vir Jesus kon sien.

Reflekteer vandag oor die volgende vrae:

  • Watter struikelblokke staan tussen my en God in my geestelike reis? Wat keer my om vir Jesus te sien?
  • Hoe kan ek hierdie struikelblokke oorkom met volharding en kreatiwiteit?
  • Hoe ’n groot invloed het ander mense se opinies en persepsies op my verhouding met God?
  • Wat is ek bereid om op te gee, sodat ek meer vir Jesus in my lewe kan sien?

Gebed

Here, daar is so dikwels dinge wat hindernisse word in my geloof. So baie dinge wat keer dat ek U kan sien. Gee vir my die insig om hierdie hindernisse raak te sien en die krag om dit te oorkom, sodat ek nader aan U kan kom.

Amen.