Donderdag 18 Julie 2024

Dasgstuk | Woensdag 17 April 2024
Dagstuk | Vrydag 19 Julie 2024

Donderdag 18 Julie

Hierdie week reis ons deur die storie van Saggeus. Vandag reflekteer ons vêrder oor die volgende gedeelte van die verhaal van Saggeus.

Lukas 19:6-8

6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.

7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!”

8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

 

Refleksie

Saggeus se ontmoeting met Jesus verander vir Saggeus. Jesus gee nie vir Saggeus enige opdragte of voorwaardes wat hy moet nakom voordat Jesus na sy huis toe sal gaan nie. Juis feit dat Jesus vir Saggeus raaksien en Homself innooi in Saggeus sê huis in, sonder enige voorwaardes, transformeer Saggeus se lewe. Jesus se ontmoeting met Saggeus, verander vir Saggeus. ’n Ontmoeting met Jesus los jou nie onveranderd nie. Jesus se onvoorwaardelike gasvryheid en liefde verander mense.

As ons eerlik is, is ons liefde dikwels voorwaardelik. Ons sê dikwels dat ons bereid is om iemand lief te hê of te aanvaar, as hulle bereid is om te verander. Die verhaal van Saggeus nooi ons uit na ’n ander perspektief van liefde – dat dit dikwels eers moontlik is vir mense om te verander wanneer hulle onvoorwaardelike gasvryheid, aanvaarding en liefde ervaar.

Dit is die Here se onvoorwaardelike genade en liefde wat dit vir ons moontlik maak om anders te leef. Ons kan liefhê omdat God ons eerste liefgehad het.

Reflekteer vandag oor die volgende:

  • Raak vandag opnuut bewus van God se onvoorwaardelike liefde en gasvryheid vir jou. Hoe laat dit jou voel om te weet Jesus het jou onvoorwaardelik lief?
  • Is daar areas in jou lewe waar jy transformasie nodig het?
  • Hoe nooi God se liefde jou om vandag anders te leef?

Mag ons Jesus se onvoorwaardelike liefde opnuut ervaar en aanvaar. Mag dit ons inspireer om anders te wees en ook vir ander onvoorwaardelike liefde en aanvaarding te wys.

Gebed

Here, dankie vir U onvoorwaardelike liefde, aanvaarding, gasvryheid en genade aan my. Help my om ook onvoorwaardelik lief te wees vir ander, veral vir die mense vir wie dit moeilik is om lief te wees.

 

Amen