Etiese kunsmatige intelligensie vir vrede

So lyk die gemeente na die pandemie
Augustus: Maand van omgee is om te gee . . .

Deur: Dr. Dirk Brand

Vroeg in Julie 2024 het ’n belangrike internasionale byeenkoms,  wat ongelukkig nie veel nuusdekking in die hoofstroommedia gekry het nie, in Hirosjima, Japan, plaasgevind.  Die geleentheid was die “AI Ethics for Peace’-beraad wat deur verteenwoordigers van 16 lande en 11 godsdienste, insluitende die Christendom, Judaïsme en Islam, asook groot tegnologiekorporasies, bygewoon is.  Die geleentheid is ’n voortsetting van ’n inisatief wat in 2023 deur die Pouslike Akademie vir Lewe in die Vatikaanstad, Rome, geneem is om etiese kunsmatige intelligensie in diens van die mensdom te bevorder.  ’n Dokument, die “Rome Call for AI Ethics” is in Februarie 2023 deur leiers van die drie grootste godsdienste, multinasionale tegnologiemaatskappye, internasionale organisasies en die Italiaanse regering onderteken.

Die “Rome Call for AI Ethics” is op ses beginsels waaraan kunsmatige intelligensiestelsels moet voldoen, gebaseer, naamlik:

  • Deursigtigheid
  • Inklusiwiteit
  • Verantwoordbaarheid
  • Onpartydigheid (nie bevooroordeeld nie)
  • Betroubaarheid
  • Sekuriteit en beskerming van privaatheid.

 

Hierdie etiese beginsels is in pas met die meeste internasionale beleidsdokumente oor etiese kunsmatige intelligensie. Die belangrikheid van die geleentheid kan nie genoeg beklemtoon word nie.  85% van die wêreld se bevolking identifiseer met een of ander godsdiens, aldus die Pew Research Centre in Washington D.C.  Die “Rome Call for AI Ethics” verteenwoordig dus by verre die meerderheid mense op aarde.  Kunsmatige intelligensie het ‘n impak op elke lewensterrein, elke land en waardestelsel.  Dit bring groot vooruitgang en voordele vir gebruikers, maar dit hou ook risiko’s in.  Dit is derhalwe noodsaaklik dat daar oor grense heen gewerk word om te verseker dat die risiko’s beperk word terwyl innovasie bevorder word en die voordele optimaliseer word.

Aartsbiskop Vincenzo Paglia, president van die Pouslike Akademie vir Lewe, het ’n beroep gedoen op alle godsdienste om saam te werk tot voordeel van die mensdom en die bewaring van die planeet.

“Artificial intelligence is one of them (new technological tools): a great tool with unlimited possibilities of application, it can and must be guided so that its potential serves the good since the moment of its design. This is our common responsibility, and in this shared effort we can rediscover real brotherhood.”

Ander geestelike leiers het onder meer beklemtoon dat volgehoue samewerking nodig is om ‘n toekoms te skep waarin tegnologie goeie vrug dra wat vrede, verdraagsaamheid en etiese waardes bevorder, asook dat die verdere ontwikkeling en benutting van kunsmatige intelligensie met morele helderheid en integriteit aangewend sal word.  Die deelnemers aan die Hirosjima-beraad het ook ‘n pleidooi gelewer dat kunsmatige intelligensie gebruik moet word om vrede te bevorder, wat onder meer ‘n verbod op dodelike outonome wapens insluit.

Sommige van die etiese bekommernisse rakende kunsmatige intelligensie is die moontlikheid van vooroordeel (“bias”) en diskriminasie.  Dink maar aan die moontlkheid dat die aansoek vir ‘n huislening deur ‘n bank geweier word omdat die algoritme ‘n foutiewe profiel van die aansoeker gelewer het, of mense maatskaplike voordele ontsê word omdat die algoritme op foutiewe data ontwikkel is wat tot diskriminasie gelei het.  Hierdie is maar enkele gevalle wat al voorgekom het en wat op die negatiewe impak van kunsmatige intelligensie dui.  Dit is voorts ook nodig dat daar gepaste menslike oorsig is oor die ontwikkeling en gebruik van kunsmatige intelligensie.

Die “Rome Call for AI Ethics” is gefokus op die verantwoordelike ontwikkeling van kunsmatige intelligensie, wat in diens van elke persoon sowel as die mensdom as geheel staan; en wat menswaardigheid respekteer sodat elke individu die voordele van tegnologie kan benut.  Dit is ‘n gedeelde verantwoordelikheid wat deur regerings, godsdienste, internasionale en gemeenskapsorganisasies, sowel as tegnologieondernemings in die privaatsektor nagekom moet word.  Dit is iets wat die NG Kerk ook behoort te ondersteun.  Die bevordering van etiese kunsmatige intelligensie sluit ook aan by twee van die waardes van Stellenberg-gemeente, naamlik om voortdurend te vernuwe in ’n veranderende wêreld, en om ’n verskil in die wêreld te maak.

 

Dirk Brand | Hy is ’n lidmaat en deel van die strategiekommissie. Hy is verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch.