’n Jongman en helpers wat ’n storm loskook

Augustus: Maand van omgee is om te gee . . .
Dankbaar!

Op die foto links is Doep du Plessis (links) en Franco Visagie (regs). Foto regs is Poena Visagie (links) en Deon Maree (regs).

Verlede Vrydagaand is ’n baie gesellige saamkuier-fondsinsamelingsfunksie in die kleinsaal aangebied.  Die koue weer is met ’n sielvolle lamsbredie verdryf en daarmee saam kon die 100 gaste Beyerskloof se bekende wyne geniet, terwyl vermaak met vers en klank deur Christo Snyman van die Broers-musiekgroep en Johan Rademan van die RSG-radiostasie aangebied is.

Agter die lamsbrediepotte was Franco Visagie, Doep du Plessis, Poena Visagie en Deon Maree al van vroegoggend af aan die werskaf om seker te maak die lamsbredie is sag en geurig gekook.  Franco, ’n 26-jarige voorvatter in die kombuis, vertel dat hy homself deur middel van video’s op die YouTube-kanaal leer kook het.  “Ek het so twee jaar gelede na kookvideo’s begin kyk” sê hy,  “en toe het ek agtergekom ek hou baie van kosmaak en nou kook ek amper elke aand vir my en my ouers.”

Franco, voltyds werksaam as teler van eksotiese voëls en bestuurder van ’n ysbesigheid, is Poena en Karen Visagie se jongste spruit en nou so gemaklik agter die kospotte dat hy sommer kans sien om met die voorbereiding van kos vir gemeentefunksies hand by te sit.

Sy gunstelingdis is beesdikrib wat hy in ’n lekker sousie gaarmaak en dan saam met kapokaartappels en groente bedien.  Hy vertel dat die lamsbredie wat Vrydagaand bedien is, vol roosmaryn, tiemie, knoffel, seldery, Worcestershire sous, tamatiepuree, paprika, rooiwyn, vleisaftreksel, uie, wortels, ertjies en sampioene was.  Die bestanddele het almal saam, vir vier ure, in ’n dikboompot geprut sodat al die geure behoorlik met mekaar kon vermeng en die vleis lekker sag kook.

Net die gedagte aan die bredie laat ’n mens se mond sommer water en Karen Visagie, organiseerder, vertel dat Franco al klaar planne in die mou voer vir volgende jaar se ete. Welgedaan aan die manne in die kombuis wat seker gemaak het die gaste word op ’n heerlike ete getrakteer, asook baie dankie aan Karen en Sheree-Lee Gildenhuys, organiseerders.