Die maand van Augustus is barmhartigheidsmaand. In die volgende paar weke dink ons na oor dit wat ons het om te gee en gaan in hierdie week fokus ons spesifiek op die gawe van tyd.
Psalm 74: 16-17. Dit is aan U wie die dag en nag behoort, U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het. U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van U hand.
Die bekende kinderboekskrywer dr. Seuss het die volgende kort gedig geskryf: How did it get so late so soon? It’s night before it’s afternoon. December is here before it’s June. My goodness, how time has flewn. How did it get so late so soon?
En so vang tyd ons almal – elke oomblik van elke dag word deur die loop van ‘n horlosie bepaal en ons verloor dikwels tred met die betekenis van tyd. So nou en dan tussen ons tydsgebonde dagboeke en programme verwonder ons onsself oor ‘n sonopkoms en -ondergang, of die duidelike tekens van ‘n seisoen wisseling. Dit is asof tyd dan vir ‘n kort oomblik stilstaan sodat ons ons oor die grootheid van die skepping kan verwonder, net om daarna weer in die roetine van sloertyd te verval en te wonder: How did it get so late so soon? Vandag se Psalm gee ons ‘n nuwe perspektief oor tyd en die ontnugtering van tyd wat eenvoudig onder ons uitloop. Dit bring in ons die vrede dat terwyl ons dikwels tred met tyd verloor, God in tyd ons nooit verloor nie. God reis saam met ons in die mooi van die son wat sak, maar ook in die roetine van sleurtyd. Hoe praat hierdie gedagte vandag met jou oor die dag, die nag en die wisseling van seisoene wat op jou wag? Mag jy ervaar dat tyd nie net by jou verby beweeg nie. Mag jy ervaar hoe die Here, aan wie die dag en nag behoort, deur jou verlede breek om jou te leer, in jou hede inbreek om dit opnuut te waardeer en jou met hoop die toekoms instuur.
Gebed
Here, dankie dat U elke sekonde van elke dag in my lewe inbreek. Vir die grootste deel van my eie bestaan dink ek nie soos nou daaraan nie. My dag en nag en seisoene behoort aan U. Dankie dat ek vandag sonder vrees en onsekerheid myself aan hierdie tyd kan oorgee. Dat ek die mooi van die verlede kan koester, dat ek uit die foute daarvan kan leer en by U genesing kan ontvang oor dinge wat gebreek het. Help my om my hede en toekoms te aanvaar in die vrede dat U besig is om my daardeur te lei. En bowenal Here, dankie vir hierdie oomblik vandag. Amen.