Galasiër 6:9. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.
Dit is vir ‘n boer belangrik om die vrug van sy arbeid te kan pluk. Dit is tog waarin sy wins en bestaan lê. Deur die jaar bewerk hy getrou sy grond en versorg sy oes met sorg om te verseker dat dit die maksimum opbrengs sal oplewer. Ons sal ook graag die vrugte wil pluk van ons arbeid en in die wins daarvan deel. Of eerder dit kan ons baie moedeloos maak om te dink ons probeer om goed te doen as ons self nie die uitwerking daarvan kan beleef nie. Wanneer Paulus ons aanmoedig om aan te hou goed doen spreek hy juis nie die verwagting uit van ‘n persoonlike wins nie. Die uitdaging om in dikwels moeilike omstandighede aan te hou goed doen, is ‘n roeping. Is jy dalk in die midde van ongeregtigheid so moedeloos dat jy nie meer die krag het om aan te hou goed doen nie? Hoe is die Here besig om vandag hieroor met jou te praat?
Gebed
Here, dit is hier waar ek vandag ophou met voorgee en ek U nou vra om my te help om my ware self te vind. Maak my nugter en eerlik oor die kwessies wat vandag my pad gaan kruis om goed te kan doen. Sonder om enige beloning daarvoor te verwag. Help my nou onderskei wat U van my in hierdie dag verwag. Amen.