Dagstuk | Woensdag 21 Augustus 2024

Dagstuk | Dinsdag 20 Augustus 2024
Dagstuk | Donderdag 22 Augustus 2024

In hierdie week, as deel van die maand van barmhartigheid, reflekteer ons oor om van ons besittings te gee.

Matteus 6:19-21

19“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. 20Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. 21Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Refleksie

’n Vriend van my het ’n gesegde wat hy gereeld herhaal: “Die dinge wat jy besit, eindig op om jou te besit”. Wanneer ons te veel waarde begin heg aan die dinge wat ons het, begin dit ons lewens oorneem en die rigting en ritme van ons lewens bepaal.

Wanneer ons dink aan die gee van ons besittings, is die vraag op die ou einde: Hoeveel waarde heg ons aan die dinge wat ons het? Jesus nooi ons om nie te veel waarde te heg aan aardse skatte nie, maar eerder waarde in die skatte van die hemel te vind.

Daar is ’n storie van ’n jong meisie wat gesukkel het om ’n bestaan te maak. Een aand kry sy ’n duidelike droom van ’n man wat stap langs die stroompie naby haar huis dat daar ’n skat weggesteek is. Die volgende oggend spring sy op en gaan dadelik na die stroompie, met hoop in haar hart dat die skat haar lewe kan verander. By die stroom aangekom, sien sy die man langs die rivier wandel. Sy stap nader en sê vir hom: “Ekskuus meneer, ek weet dit is vreemd, maar ek het gister van jou gedroom. Ek het gedroom dat daar hier iewers naby jou ’n skat op my wag.” Die man haal toe dadelik ’n massiewe diamant uit sy sak. “Jy praat seker van hierdie. Ek het dit daar in die stroompie opgetel. Hier. Neem dit. Dit is joune.”

Die meisie gaan toe huis toe met meer as wat sy nog ooit oor gedroom het. Maar daardie aand kan sy nie slaap nie, die man langs die stroom bly in haar gedagtes. Die volgende oggend vroeg gaan sy weer af na die stroom en kry die man weer waar sy hom die vorige dag ontmoet het. Sy hardloop na hom toe en vra vir hom: “Asseblief, sê my watter rykdom jy het wat jou in staat stel om sulke aardse skatte so maklik weg te gee?”

Reflekteer vandag oor Jesus se woorde in Matteus en oor hierdie storie wat ons nooi om te dink ook wat werklik waardevol in die lewe is. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Gebed

Here, help ons om te sien wat werklik belangrik is in die lewe. Help ons om skatte in die hemel bymekaar te maak, eerder as op aarde en nie te veel waarde te heg aan aardse dinge nie.

Amen