Teks: Filippense 4:11-13
11Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.
GEDAGTE: TEVREDE MET JOU FAMILIE
Is jy tevrede met jou omstandighede? Dan wil ek dit nog bietjie nouer maak – is jy tevrede met jou familie? Ons familie kan ons dikwels nie kies nie. Ons word daarin gebore, of trou in ’n bepaalde familie in. Tog is dit ’n voorreg om ‘n familie te hê en bied dit vir ons ‘n warm skuilplek teen ’n dikwels koue af afsydige wêreld.
Ek dink ons het elkeen die menslike behoefte om aan ’n familie te behoort. Die rede daarvoor is omdat ons die behoefte het om te behoort en om aanvaar te word. Ons familie bied vir ons ‘n tuiste, ’n wete dat jy ook iewers inpas en behoort by mense wat jou eie persoonlike lewensverhaal met jou deel.
Ons familie behoort vir ons ‘n plek van koestering te skep. Waar jy die maskers kan afhaal en wees wie jy werklik is. Solank jy familie het, het jy ’n tuiste. In die meeste gevalle behoort ’n familie ook liefde te beteken. Dit is ook ’n toevlug – die plek waar jy kan gaan rus en waar jy in moeilike omstandighede bygestaan sal word.
Ons is nie almal deel van ideale families nie. Dit is dan wanneer ons hierdie begeerte om te behoort dikwels op ander plekke gaan soek. Ja, ons word opgeroep om tevrede te wees met ons families al is hulle soms uitdagend, moeilik en onsmaaklik. Dalk is jy juis deel van hulle om ‘n verskil tussen hulle te maak. Hou aan vir hulle bid en jou liefde met hulle te deel.
GEBED
Here, dankie vir my familie. Dankie vir die vreugde, die leer, die trane en die oorwinnings wat ons huis vul. Dit is my gebed dat my familie U moet soek en volg, Here Jesus. Ek nooi U – kom woon in ons huis. Leer en lei ons. Laat U Woord die wortels van ons lewens word. Ons behoort aan U o God. Laat ons dade en woorde tot U eer wees. Laat ons met vergifnis en liefde op tree waar daar seer is. Mag U verheerlik word deur ons oorwinnings. In die magtige Naam van Jesus Christus, Amen. (SA Gemeente)