Dagstuk | Donderdag 3 Oktober 2024

Dagstuk | Woensdag 2 Oktober 2024
Dagstuk | Vrydag 4 Oktober 2024

 

In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Daniël, wat ons leer om in ’n veranderende wêreld getrou te bly aan God.

Daniel 6:17:

Daarop het die koning opdrag gegee en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. En die koning het vir Daniël gesê: “Jou God wat jy voortdurend dien, mag Hy jou red.”

Refleksie

Omdat Daniël aangehou het om vir God te aanbid, teen die bevel van die koning, is hy in die leeukuil gegooi. Daniël het homself in ’n onmoontlike situasie bevind. As jy die res van die verhaal ken, sal jy weet dat Daniël die volgende oggend ongedeerd uit hierdie onmoontlike situasie uitgestap het. Vir mense wat in die onmoontlike situasie van ballingskap leef, bring verhale soos hierdie vir hulle hoop dat daar vir hulle ook uitkoms kan wees, selfs al voel dinge onmoontlik. Daniël nooi ons om te glo in die God wat die onmoontlike, moontlik maak.

In Lewis Carrol se Alice in Wonderland, maak Alice die opmerking: “There’s no use trying. One can’t believe in impossible things”. Dan antwoord die koningin: “I daresay you haven’t had much practice. When I was your age, I always did it for half-an-hour a day. Why, sometimes I’ve believed as many as six impossible things before breakfast.”

Die verhaal van Daniël nooi ons om te glo dat die Here in onmoontlike situasies, die onmoontlike moontlik kan maak.

Is daar iets in jou lewe, of iets wat jy sien in die wêreld rondom jou, wat vir jou onmoontlik voel?

In die verhaal van Jesus en die ryk jongman, het van die mense wat die gesprek gehoor het, gevoel dit is onmoontlik om in die koninkryk van God in te gaan. Jesus sê vir die man: “dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die mense wat dit gehoor het sê toe: “Wie kan dan gered word?”

Dalk voel jy ook dat, te midde van die wêreld waarin ons leef, dit moeilik of selfs onmoontlik is om getrou te bly aan God en Jesus se uitnodiging tot ’n lewe van radikale liefde te aanvaar.

Hierop antwoord Jesus: “Wat onmoontlik is by mense, is by God moontlik.”

Gebed

Here, U is die God wat vir Daniël uit die leeukuil gered het en die onmoontlike moontlik maak. Skenk aan ons die moed om vir U te volg, veral wanneer dit vir ons onmoontlik voel.

Amen