Dagstuk | Vrydag 10 Januarie 2024

Dagstuk | Donderdag 9 Januarie 2025
Dagstuk | Saterdag 11 Januarie 2025

Titus 2:11. Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.

As ‘n mens deur die Evangelies lees is een van die mees opvallende en treffende dinge die manier waarop mense van oral na Jesus toe gestroom het. Sonder Facebook, Instagram of Whatsapp het die nuus oor Hom soos ‘n veldbrand versprei en ons lees dat mense buite die grense van die streek en land na Jesus toe gestroom het. Wat het hulle na Jesus toe getrek? Was dit vir ‘n inspirerende preek? Baie van die mense het nie tot dieselfde Joodse godsdienstige agtergrond behoort nie. Was dit om deur ‘n wonderwerk genesing te ontvang? Slegs enkele mense is deur Jesus genees. Dit blyk dat die boodskap van God se genade in Jesus alle mense diep geraak het. Mense wat in die realiteite van hulle wêreld ver van God gevoel het, het eenvoudig diep onder die indruk gekom dat God vir hulle omgee – hierdie omgee het hulle ‘n nuwe uitsig op die lewe gegee en deur hulle optrede is God se genade gedeel. Wat is genade wat jou na die Here toe trek? Hoe kan jy dit vandag met ander deel?

 

Gebed

U goedheid Heer kan ons nie peil nie. Wie word daardeur nie diep getref! Niks anders bring vir ons die heil nie – ons wil ons hart tot U verhef. Aan U alleen ons dank en ere, U wat ons in U liefde lei. U sal ons nooit vergeet nie Here, U wil ons in U waarheid lei. Sou ek, o Heer U nie vereer nie, sou ek U goedheid nie verstaan. Sou U my raad gee, ek nie leer nie, die weg wat U my wys nie gaan. Nee, Heer U rig my wil en strewe; U Woord bly my gedurig by. Vul met U liefde ook my lewe om my in alles u te wy. Amen.