Ons is in Lydenstyd – die 40 dae tydperk voor ons by Paasnaweek uitkom wanneer ons Jesus se groot versoeningsoffer herdenk.
Ek wil in die week saam met jou stilstaan by die tema van gestrooptheid. As ons dink aan Jesus se kruisinging besef ons Hy was gestroop van alles. Sy menswaardigheid, sy Godheid, sy klere, sy onskuld. Gestrooptheid kan op verskillende maniere sigbaar word in ons lewe. Mag dit vir jou ‘n geseënde week wees wanneer ons daaroor nadink.
23En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het,
24en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.
Tema: Gestroop van jou kleed.
Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak. Toe Josef se broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle ’n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom te sê gehad nie.
Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, en vat hom en gooi hom in die put.
Die koninklike jas wat sy pa hom gegee het om hom van hulle te onderskei en sy liefde vir sy seun te bevestig, word ironies genoeg van sy lyf gestroop, geskeur en met bloed bevlek. Dit word ’n vals bewysstuk en die draer van die ergste, slegste nuus wat sy pa Jakob nog gehoor het. Sy seun is dood! Maar, Josef is op pad na Egipte waar ’n nuwe lewe as slaaf wag. ’n Mens kan sê dat Josef saam met sy kleed van alles gestroop is. Hy is van sy bevoorregte status, sekuriteit van sy pa se liefde gestroop. Hy is gestroop van alles wat tot dusver vir hom saak gemaak het. Die bodem het inderdaad totaal uit Josef se lewe uitgeval.
Dalk het die lewe jou ook al onregverdig behandel. Dalk was jy ook al deur mense se toedoen van jou menswaardigheid gestroop. Waarvan is jy al gestroop wat jou as mens negatief benadeel het? Ek is seker daarvan ons almal het al so ’n ervaring beleef. Natuurlik is dit ‘n onaangename tyd van ons lewe. Dis nie maklik nie en ons ervaar op verskeie terreine ongemak wanneer dit gebeur. Die wonder is egter dat die Here ook hierdie slegte gestroopte ervarings kan gebruik om ons te vernuwe, of te laat groei. Soos Paulus sê ons glo dat God alles ten goede vir ons laat uitwerk.
Ons ken die verhaal verder van Josef. Sy verhaal het nie op hierdie hartseer gestroopte noot geeïndig nie. Hy het later gesorg dat sy volk van hongersnood gered word. Dink bietjie vandag daaraan hoe het God tog hierdie seer onregverdige oomblikke vir jou tot seën gebruik.
Here, wanneer ek gestroop word van my waardigheid en trots is dit moeilik. Maar dankie dat U dit tot eer van U Naam kan gebruik. Amen