Vandag is Saterdag 8 Maart en en hierdie week is ons op reis na die eerste Sondag van Lydenstyd waar ons Sondag na Sondag en week na week een van die sewe kerse oppad na Paasnaweek dood blaas.
Vandag se teks is Johannes 14:25-27 “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”
Dit gebeur soms in die wildernis dat dinge wat voorheen gehelp het om rigting aan te wys, nie meer ‘’werk’’ soos voorheen nie. Ons gewone maniere van bid voel skielik droog, ons manier van dink en voel het verander; dit kan ons verlore laat voel. Maar dit is ‘n normale deel van ons pad saam met God. Ons sal ‘n paar keer in ons lewens op kruispaaie kom waar God iets nuut of iets dieper, aan ons wil openbaar: ‘n nuwe deel en dimensie van Homself.
Mag die Gees van God in jou lewe werk tydens hierdie Lydenstyd oppad na die kruis. Kom woon gerus more oggend een van ons eredienste by Stellenberg-gemeente by waar ons die eerste Lydenssondag saam vier deur die Nagmaal te gebruik en die uitblaas van ons eerste Lydenskers.
Gebed: Here, kom vorm my en kleur my lewe in met U Gees wat gedurig nuut maak. Amen.