Dagstuk | Maandag 17 Maart 2025

Dagstuk | Saterdag 15 Maart 2025
Dagstuk | Dinsdag 18 Maart 2025

Erken ons menslikheid

Lydenstyd bring ons by ‘n kragtige tyd van transformasie. Daar is min dinge wat ons tot nuwe insigte kan lei en kan omdraai soos lyding. Maar dan moet ons, in Jesus se woorde, bereid wees om ons eie kruis op te neem en hom te volg. In die volgende week gaan ons nadink oor ons bereidheid om ons eie kruis op te neem.

Genesis 3:19 – “Net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want  jy is daaruit geneem

Lydenstyd begin met die gedagte van ons teks: ’n Lewe op aarde is nie maanskyn en rose nie. Ons swoeg en sweet om ’n lewe te bou net om dit waarvoor ons gewerk het en alles wat ons bymekaar gemaak het agter te laat. Niks wat  jy gebou, of hard aan gewerk het kan jy met jou saamneem nie. Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. Vir die Prediker (2) was dit onregverdig dat ‘n mens alles waarvoor jy hard gewerk het moet nalaat aan iemand wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Tog is daar wel iets wat behoue bly en nooit saam met ons aardse besittings vergaan nie en wat groter in waarde is: God se liefde, genade en vrede wat ons deur ons lewens vergesel en na die dood by ons bly. Lees weer wat Paulus in Romeine 8:35-38 hieroor sê: Wie kan ons van die liefde van Christus skei? En dan: Hiervan is ek oortuig – dat geen dood, of lewe, of engele, of bose magte, of teenwoordige, of toekomstige dinge, of kragte, of hoogte, of diepte, of enige iets anders in die skepping ons van die liefde van God kan skei nie. Lydenstyd bring ons elke jaar op ’n plek om eerlik en nugter oor ons menslikheid te reflekteer. Oor ons ideale en drome, ons mislukkings, ons verliese asook ons teenswoordige en toekomstige uitdagings. Wat kan jy nog tot hierdie lys toevoeg? Dink vandag aan jou eie lewe en die wyse waarop die Here juis deur jou swoeg en sweet op diep maniere met jou praat oor sy liefde en genade wat jou vandag by ’n plek van vrede uitbring.

Gebed

Here, bring my dwarrelend gedagte tot rus. Help my om na U te kom sonder om met U te redeneer, sonder om te pleit, sonder om enige iets te vra, behalwe om te mag bewus wees van u stille teenwoordigheid. Gee my die geloof wat nodig is om my laste by U te kom neerlê. En dit dan daar te laat in ruil vir U vrede, wat alle verstand te bowe gaan. Amen.