Dagstuk | Saterdag 9 Augustus 2025

Dagstuk | Vrydag 8 Augustus 2025
Dagstuk | Maandag 11 Augustus 2025

Ons is tans in koninkrykstyd en tydens ons eredienste besig met ’n reeks: So ook op die aarde. Hierdie week reis ons saam met die verhaal van Rut, wat ons help om te sien hoe God se genade sigbaar word in ons weerloosheid.

 

Rut 4:14-15

Die vroue het vir Naomi gesê:

“Die Here moet geprys word!

Hy het jou vandag nie sonder ‘n losser gelaat nie.

Mag dié losser beroemd wees in Israel.

15Mag hy jou lewenslus herstel en jou versorg op jou oudag.

Jou skoondogter, wat jou liefhet, het hom in die wêreld gebring,

sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns. ”

Refleksie

Die verhaal eindig met die huwelik van Rut en Boas en die geboorte van Obed. In Rut, het Naomi weer ’n toekoms gekry. Let op dat die vroue vir Naomi op haar naam noem, eerder as om haar Mara te noem. Dit is asof Obed se geboorte weer vir haar die lewe wat sy voorheen beleef het, moontlik maak. Obed se geboorte het ook groter belang as net vir Noami en Rut. Dawid sou uit sy nageslag gebore word. En uiteindelik sou Jesus gebore word uit die nageslag van Dawid. Naomi en Rut se verhaal van gebrokenheid en weerloosheid word deel van die groter verhaal van God wat herstel en verlossing bring vir die wêreld. Dit beteken nie dat die seer van die verlede weggevee word nie, maar nuwe lewe word vir Rut en Naomi moontlik en hulle word verlos uit hul hopelose omstandighede.

Iets wat opmerklik is in die hele verhaal van Rut, is dat God soms genoem word, maar God self is nie ’n karakter in die verhaal nie. ’n Paar karakters getuig oor God, maar God doen niks in die verhaal nie.

Dit is die subtiele briljantheid van die verhaal van Rut, want God se voorsienigheid is agter elke toneel aan die werk en weef die lewens van die karakters saam. Terwyl Naomi se tragedie haar laat dink dat God haar straf, ontdek ons dat Hy eintlik besig is om haar te herstel. En God bewerkstellig daardie herstel deur Rut se dapperheid en lojaliteit. Die rede waarom Rut se optrede genesing vir haar en Naomi se lewe bring, is as gevolg van Boas, ‘n geen-nonsens boer wat vol vrygewigheid en lojaliteit is.

Die verhaal nooi ons om raak te sien hoe God betrokke is in ons eie verhale en hoe God besig is om ons verhale te verweef met die groter verhaal van sy koninkryk.

Reflekteer vandag vêrder oor hoe God in jou eie lewe betrokke is.

Gebed

Here, dankie dat ons kan vertrou dat U besig is om herstel te bring in die wêreld. Dat U uit die gebrokenheid van die wêreld, iets mooi en goed kan voortbring. Help ons om te sien hoe U in ons eie lewens betrokke is en hoe ons saam met U kan deelneem om herstel te bring in ons wêreld.

Amen.