Vandag is Donderdag 21 Augustus en welkom by hierdie week se oordenkings. Die woord “Sela” in die Bybel, veral in die Psalms, is soos geheimsinnige musieknote wat ons nooi om te stop, asem te haal, en God se teenwoordigheid te ervaar.
Vandag gesels ons oor “Sela” as ’n oomblik van oorgawe. Hierdie soort oorgawe gee alles aan God. Psalm 55:23 sê: “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie. Hierdie is ’n oproep om ons laste aan God oor te gee en sy soewereiniteit te erken. Oorgawe beteken om beheer los te laat en God toe te laat om ons pad te lei.
Neem vandag ’n klein voorwerp (’n klip of munt) en hou dit in jou hand terwyl jy Psalm 55:17-23 lees. Laat die voorwerp jou bekommernisse verteenwoordig. Bid en “werp” die voorwerp simbolies in God se hande deur dit in ’n boks of op ’n altaar te plaas. Skryf ’n kort gebed van oorgawe en lees dit daagliks. Vra jouself vandag die volgende vraag: Wat moet ek vandag los om God te vertrou?
Gebed: Here, ek gee my laste aan U oor. Help my om oor te gee aan U en U wil te soek. Laat “Sela” my herinner om my hart en lewe in u hande te plaas. Dankie vir u krag wat my dra. Amen.