Ontmoet Deon Maree, nuwe kerkraadslid

Ontmoet vir Lynette Burger, nuwe kerkraadslid
Meer inligting oor die film Plastic People

Deon Maree en sy gesin het eintlik min bekendstelling nodig, want die trio bestaande uit Deon, Rhoanne en Dean is bekende gesigte by gemeentefunksies, eredienste en sommer daagliks op die gemeente se terrein.

Deon is voltyds werksaam as die terreinbestuurder van die gemeente en sy seun, Dean, ’n BComHons-student is een van die gemeente se klankmanne.  Ma Rhoanne werk voltyds by Curo Fund Services, maar is ook ’n raakvatter by die basaar, feesmark en op Sondae in die kafeteria.

Deon vertel hy het in die suidelike voorstede grootgeword en as kind in die pragtige Kommetjie gewoon.  Hy het aan die Hoërskool Zwaanswyk in Retreat gematrikuleer.  Hy is baie lief vir die natuur – berge en see hou vir hom ’n besonderse bekoring in.  Hy beskryf homself as ’n passievolle sportkyker en hy volg graag rugby- en krieketwedstryde, asook gholftoernooie en fiestrywedrenne.  Sy grootste stokperdjie en gunstelingtydverdryf is braai.  Naas sy gesin en familie is sy tweede liefde diere.  Zander, die wit bulhond, is ’n volwaardige lid van die Maree-gesin.

Uit die aard van sy  werk as terreinbestuurder, is Deon ook by die eiendomskommissie betrokke.  As kerkraadslid sou hy graag ook by die  geestelikesorg en -finanskommissie betrokke wou raak.  “Beide my en Rhoanne se roeping is om diensbaar te wees in Stellenberg-gemeente.  Vir ons is dit ’n belewenis om elke Sondag te sien hoe medegelowiges saam ons Hemelse Vader aanbid.  Ek glo dat my verkiesing as ouderling ’n opdrag van die Here is en dat Hy my daagliks sal lei om gehoorsaam te wees aan dié roeping wat Hy my gegee het om met my diensbaarheid ’n verskil in Stellenberg-gemeente te maak.”