Dagstuk | Dinsdag 30 September 2025

Dagstuk | Maandag 29 September 2025
Dagstuk | Woensdag 1 Oktober 2025

 

Tema. Alles in God se wysheid geskep

Spreuke 3:19-20. Die Here het die fondament van die aarde met wysheid gelê en die hemel gebou met insig. Deur sy kennis is die groot waters van mekaar geskei en drup die wolke van vog.

Gister se gedeelte het gegaan oor God se grootheid in die midde van chaos en hoe ons respons van vrees ons net in meer chaos laat beland. Vandag se teks wil ons aanmoedig om uit die perspektief van God se wysheid na die wêreld te kyk en die geleenthede daarin te realiseer. In die skeppingsverhaal in Genesis herhaal die woorde “en dit was goed” telkens. En dan volg die mens se aksies wat die goeie misbruik vir sy/haar eie gewin. Dis die storie van die mensdom. Maar dan los God dit nie net daar nie – hy herskep. In die res van Genesis in die familiestories van Abraham, Isak, Jakob en Josef herhaal hierdie selfde ritme waarin God se wysheid op die mees onverwagte maniere en deur die mees onverwagte gebeure en mense ons by nuwe uitkomste bring. Die chaos wat Josef se broers se jaloesie aan die gang gesit het en ‘n droogte wat almal se lewens bedreig word deur God omgedraai. Chaos sal altyd met ons wees, maar in dit is die Here voortdurend besig om ons na dieper perspektiewe en insigte te lei om die goeie van sy skepping te laat deurbreek. Op watter manier is die Here besig om in die midde van ‘n komplekse situasie of wêreld in jou met insig deur te breek? Wysheid is nie vandag ver van enige een van ons nie. Dit reg voor ons oë om te ontdek. Gaan vandag met ‘n oop gemoed jou dag in en stel jou gedagtes, emosies en perspektiewe oop vir die eenvoud van die goeie.

 

Gebed

Here, Skepper van hemel en aarde,
deur U wysheid is die fondamente van die aarde gelê,
deur U insig is die hemel gevestig,
deur U kennis vloei die waters en bring die wolke reën.

Ons buig voor U en vra:
gee ons die gawe om U wysheid te soek,
die goeie daarin raak te sien,
en dit in ons daaglikse lewe te beoefen.

Wanneer ons onseker is, wys ons U pad.
Wanneer ons twyfel, herinner ons aan U goedheid.
Laat U wysheid ons anker wees,
sodat ons vrede en regverdigheid kan vind.

Mag ons met oop harte luister,
met nederigheid leer,
en met liefde die vrug van U wysheid uitleef
tot seën vir ander.

Amen.