Ons stap hierdie week stadig deur Jesus se woorde in Matteus 11:28: “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.
Vandag rus ons by “Kom na My toe…”
Daar is baie dinge wat roep wanneer ons moeg is — irritasie, selfsug, luiheid, koffie. Of ons kies om tyd voor ons skerms deur te bring, wat vir ons tydelike afleiding gee, maar wat op die ou end nog meer bydra tot ons uitputting. Maar Jesus sê: Na My toe. Die rus waarna Hy ons nooi, is nie net fisiese rus nie, maar verhouding. In Johannes 6:68, gee Jesus vir sy dissipels die keuse om ook soos die ander mense, weg te draai van Hom af. Dan vra Petrus: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.” Rus lê nie in leegheid of afwesigheid nie, maar in teenwoordigheid. Om na Hom toe te kom, is om onsself te herinner: ek hoef nie alles te dra nie, ek mag rus in iemand groter as ekself.
Wanneer jy uitgeput is, na watter dinge hardloop jy eerste? Wat sou dit beteken om daardie energie eerder in Jesus se teenwoordigheid in te bring?
Here Jesus, U is die een na wie ek werklik verlang. Trek my vandag nader aan U – nie net in woorde nie, maar met my hele lewe. Amen.