“Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: ‘Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.’
Met die beker ná die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.’”
Ek dink nie een van ons kan ons werklik indink wat dit beteken dat Jesus vir die ganse wêreld se sondeskuld betaal het nie. Besef jy dat Christus jou uit die kake van die dood geruk het? Ons kan onsself nie verlos nie; selfs ons beste dade kan ons nie red nie. Slegs deur die dood van Jesus Christus — deur Sy bloed en omdat God ons liefhet — het Hy ons gered van die dood en die leë bestaan sonder Hom.
Wanneer ons dus die nagmaal vier, is ons diep bewus van die groot prys wat Jesus betaal het. Tog is ons harte gevul met dankbaarheid en blydskap:
Ons is verlos! Ons is vry!
Daarom hoef ons nie soos moedeloos mense sonder hoop of toekoms rond te loop nie. Ons is bevry — losgemaak uit die tronk van sonde.
Blaise Pascal, die Franse wiskundige genie wat op 19 Junie 1623 gebore is, het een aand omstreeks sy 31ste jaar ’n lewensveranderende ontmoeting met God gehad. Ná sy bekering het hy sy lewe aan Christus toegewy en baie van sy denke aan die geloof gewy. Hy het sy belewenis van daardie aand op ’n stukkie perkament neergeskryf en in sy jas gebêre — waar dit eers agt jaar ná sy dood gevind is.
Daar staan:
Jaar van genade, 1654.
Maandag, 23 November, omtrent halfelf die aand tot net ná middernag.
Vuur. Die vuur van die God van Abraham, Isak en Jakob het oor my gekom.
Nie die woorde van filosowe of wetenskaplikes nie, maar die woorde van God.
My God, my God, waarom het ek U verlaat?
Mag ek nooit weer van U geskei wees nie.
Maar dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat deur U gestuur is.
Ek het van Hom weggeloop, Hom verloën, Hom weer gekruisig —
maar Hy is vir my gekruisig. Hy het my kom soek.
Daarom het ek nou ewige vreugde. Ewige vreugde.
Een woord staan helder uit in sy belydenis: Vreugde!
Vreugde, trane van blydskap, omdat God alles in sy lewe verander het.
Sonde en skuld steel ’n mens se vreugde.
Sonde bind jou vas soos toue — dit druk en verstik jou. Daarom bid Dawid in Psalm 51:14 nadat hy sy sonde met Batseba bely:
“Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is; laat my U weer met toewyding dien.”
God se verlossing gee aan ons weer ware vreugde.
Daarom vier ons die nagmaal as ’n fees van vreugde —
vreugde omdat ek en jy vir altyd verlos is,
en omdat ons die hoop het op die ewige lewe saam met ons Verlosser.
Genadige Vader,
ons kom na U met dankbare harte — nie in vrees nie, maar in blydskap.
Dankie vir die gawe van die Heilige Nagmaal,
waar ons die offer van Jesus Christus, ons Verlosser en Redder, onthou.
By die nagmaal word brood en wyn meer as net simbole;
dit is tekens van U eindelose liefde,
U uitgestorte genade,
en U teenwoordigheid wat werklik by ons is.
U het die dood oorwin.
U het elke ketting gebreek.
En nou nooi U ons om in vreugde en vryheid saam met U te leef.
Amen.