By Stellenberg-gemeente is ons besig met ’n reeks vir Dankoffermaand rondom die tema sout. Hierdie week stap ons verder met gedagtes uit Kolossense 4:2–6.
Ons begin vandag met die eerste deel van Kolossense 4:2a:
“Volhard in gebed.”
Die uitnodiging is eenvoudig, maar diep: hou aan bid. Ons kan dit ook stel as “bid voortdurend” of “bid sonder ophou”. Dit beteken nie dat jy heeltyd met toe-oë leef nie, maar dat jy ’n gebedslewe leef — ’n lewe wat geanker is in ’n voortdurende verhouding met God.
Daar is ’n ou monastiese tradisie, in Latyn genoem Ora et labora, wat beteken “bid en werk”. Die gedagte is pragtig eenvoudig: gebed en werk vloei saam. Enige vorm van werk kan gebed word wanneer ons dit bewustelik en met oorgawe doen. Gebed is dus nie net iets wat ons voor of ná werk nie — werk self word deel van ’n lewe van gebed.
Het jy al daaraan gedink dat gebed eerder ’n lewenswyse is as ’n aktiwiteit? Hoe sou dit vir jou lyk om vandag biddend te leef — in alles wat jy aanpak, in elke ontmoeting, en op elke plek waar jy jou bevind?
Om te volhard in gebed beteken egter nie dat die geestelike dissipline van afgesonderde gebed onbelangrik is nie. Inteendeel — ’n biddende lewe maak doelbewus tyd vir gebed.
Hoe kan jy vandag, en deur die loop van hierdie week, spesifiek tye afsonder om te bid? Oorweeg om dit in jou dagboek neer te skryf as ’n doelbewuste ritme.
Kom ons bid nou ook saam.
Here, herinner ons vandag daaraan dat U teenwoordig is in elke oomblik en in alles wat ons doen, net soos ons dit nou beleef.
Ons bid dat U koninkryk sal kom — soos in die hemel, so ook op die aarde.
Maak ons oë oop vir die mense en situasies wat gebed nodig het, en hoor die stille gebede van ons harte deur die dag heen.
Amen.