Vandag is Saterdag 4 April en welkom by hierdie week se oordenking, waar ons tydens hierdie Heilige Week op reis is na die kruis en opstanding van Jesus, ons Verlosser. Ons kyk hierdie week elke dag na een van die sewe kruiswoorde van Jesus.
Kruiswoord 6 & 7: “Dit is volbring!” & “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”
Lukas 23:44–49
Dit was al omtrent twaalfuur toe daar duisternis oor die hele land gekom het, en dit het tot drie-uur geduur; die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”
Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.
Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”
Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.
As Jesus dan alles volbring het, wat moet ons doen? Ons moet juig! Want geloof is om te juig oor Jesus se kruiswoorde. Die boodskap van die kruis is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Jou lewe het sin, want dit is in God se hande. Jou lewe, met sy mislukkings, is in God se hande. Met hierdie kruiswoorde is ons vrygemaak! Die kruis met sy kruiswoorde laat ons elke dag voluit leef in oorwinning.
Gebed: Here, ons kom gee opnuut ons lewens oor in U hande. Help ons om die pad van oorwinning saam met U te stap. Amen.