Dagstuk | Woensdag 8 April 2026

Dagstuk | Dinsdag 7 April 2026
Dagstuk | Donderdag 9 April 2026

https://youtu.be/XI9nVmnrNlc

Joh. 20:15 (Jesus sê vir Maria, waar sy by die graf staan en huil): “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Weereens ’n aangrypende toneel, daardie opstandingsondag by Jesus se graf! Ook volgens Johannes se Evangelie is dit Jesus se eerste verskyning en woorde aan iemand ná sy opstanding. Maria, wat die eerste getuie van die leë graf was, weet steeds nie wat gebeur het nie. Sy dink steeds dit was ’n grafskending en dat iemand die lewelose liggaam van Jesus verwyder het. Gebroke en hartseer oor haar groot verlies, staan sy verward en huil.

En dan, soos so baie kere sou gebeur in die paar weke ná Jesus se opstanding, verskyn Hy … daag Hy by haar op. In haar nood. Opvallend is dat Hy nie eers oor sy opstanding praat nie, maar dadelik geraak word deur haar nood en trane. Daarom, soos Johannes berig, is sy eerste woorde ná sy opstanding omgee-woorde, trooswoorde: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Nadat sy met Hom deel wat die rede vir haar pyn is, roep Hy haar op haar eie naam: “Maria!” Sy erken Hom en antwoord: “Rabboeni!” (My Meester!) En soos ons in vers 18 sien, getuig sy, traanloos: “Ek het die HERE gesien!”

Vriende, dit is dieselfde opgestane Jesus wat steeds opdaag vir my, in watter vorm van nood en pyn ek ook al mag verkeer. Hy sien dit raak. Hy gee om. Hy vra vrae om te troos. En dan noem Hy my op my naam. Hy maak dit persoonlik. Ek is nie sommer ’n nommer in die bondel nie. Hy kom staan by my om by my te wees in my gebrokenheid. En Hy wil (en kan) my situasie verander, omdat Hy die Oorwinnaar is in alle krisisse.

Gebed: Here, dankie dat U nie by my verbystap in my nood en pyn nie, maar dat U vir my opdaag en my by die naam noem. Soos Maria wil ek ook in geloof en dankbaarheid reageer: “Rabboeni, my Meester!”