Luk. 24:32: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat het nie?”
Ek wil graag vandag iets persoonlik met julle deel. My eie pa was vir my van kleintyd af ’n voorbeeld van iemand wat baie naby aan God geleef het. Ek onthou hoe ons saans om die tafel gesit het en dan gehoor het hoe Pa met God praat tydens ons huisgodsdiens. In byna al sy gebede het hy die Emmausgangers se bekende woorde aangehaal wanneer hy bid: “Here, laat ons harte brandend in ons word soos dié van die Emmausgangers.” Dit is natuurlik hoe dit in die ou vertaling beskryf is.
As kind het ek altyd gewonder wat dit eintlik beteken. Hoe raak my hart brandend, warm in my? In later jare het ek dit begin verstaan. Dit gebeur, soos met die Emmausgangers, wanneer daar ’n ontmoeting met die lewende Jesus plaasvind.
Terwyl hulle ietwat verward, met somber gesigte, loop en wonder oor die gebeure van die afgelope week in Jerusalem, daag die opgestane Jesus by hulle op. In hulle twyfel—en kan ons dalk ook sê, hulle teologiese verwarring—is Hy skielik daar by hulle. Hy hoor hulle verwarring en vrae en begin vir hulle perspektief gee oor dit waaroor hulle wonder. Hy deel met hulle die waarheid. Wat Hy sê, en hoe Hy saamstap—hoe Hy teenwoordig is by hulle—laat hulle harte warm word. Hulle menswees, hul gees, reageer op sy teenwoordigheid en sy woorde van waarheid.
Vriende, ook hier, soos by van die ander ontmoetings waarby ons dié week stilgestaan het, sien ons hoe Jesus ná sy opstanding by mense opdaag om troos, vrede, waarheid en sy teenwoordigheid te bring. Ook, natuurlik, weer by ons—ongeag die omstandighede waarin ons onsself mag bevind. En as ons dit ervaar en glo dat Jesus daar is vir ons, as die lewende Here wat vir my opdaag, dan is ons respons ook soos dié van die Emmausgangers: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat het nie!”
Gebed: Here, dankie dat U telkens weer vir my opdaag en my kom ontmoet waar ek is. Daaroor wil ek U my lewe lank dien met ’n warm hart. Amen.