Dagstuk | Vrydag 17 April 2026

Dagstuk | Donderdag 16 April 2026
Dagstuk | Saterdag 18 April 2026

TEKS: Johannes 21:12–14
Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” Nie een van die dissipels het dit gewaag om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is.
13 Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis.
14 Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.

TEMA: Jesus verskyn by die See van Galilea

BOODSKAP
Paasnaweek is verby. Vir baie van ons was dit die hoogtepunt van ons geestelike jaar. Ons het by die leë kruis en graf stilgestaan. Nou is Paasnaweek verby en ons is weer terug in die werklikheid van ons alledaagse bestaan.

Noudat alles terug is na die normale — of dalk die abnormale sleurgang — kan dit gebeur dat die Here vir jou ver voel. Jy sien uit na die volgende groot ding, ’n groot geestelike byeenkoms of Pinkstertyd, wanneer jy Hom weer kan beleef. Ons soek die Here in groot dinge, en natuurlik is Hy daar te vind. Maar Hy is nie net in die groot dinge nie. Hy is ook by ons wanneer ons visvang. Ons lees hiervan in Johannes 21.

Wat sou jy gedoen het as jy ’n dissipel was ná Jesus se opstanding? Hy het aan jou verskyn en jou gegroet met ’n vredesgroet. Jy het Sy hande en Sy sy gesien. Jy weet Hy het opgestaan. Hy het jou met Sy Heilige Gees gevul en jou uitgestuur. Toe die dissipels die twyfelende Tomas raakloop, kan hulle hul opgewondenheid nie beteuel nie en hulle getuig: “Ons het die Here gesien!”

Wat sou jy gedoen het as jy ’n dissipel was? Petrus besluit om te gaan visvang. ’n Paar van die dissipels was vissermanne. Dit is wat hulle vir ’n lewe gedoen het. Dit is wat hulle die beste weet om te doen. Sewe van hulle gaan visvang. Die hele nag vang hulle niks. Teen ligdag is hulle visloos en moedeloos.

Toe hulle op die land kom, brand die vuur reeds en is daar ’n stuk vis daarop. Jesus deel vis en brood aan Sy dissipels uit. Die dissipels eet skaam en bang. Behalwe vir Johannes het hulle Hom almal in die steek gelaat. Maar hulle weet dat Hy die Here is en dat Hy leef.

Ons soek die Here in die groot dinge en op spesiale plekke. Ons sê so maklik dat ons die Here in die erediens ontmoet of nie ontmoet nie.

Maar die Here is nie meer in die kerkgebou teenwoordig as wanneer ons gaan visvang nie. Hy verskyn in die alledaagse, selfs in die stil, eenvoudige oomblikke van die lewe. Hy bedien ons oral waar ek en jy wandel en leef. Hy is inderdaad in die alledaagse. Soek Hom juis vandag in die gewone dinge van die lewe.

GEBED
Hemelse Vader,
Maak my oë oop om U te sien in die gewone oomblikke van my dag.
Wanneer die lewe roetine voel, herinner my dat U teenwoordig is in elke asemteug, elke tree, elke stil oomblik. Help my om U hand raak te sien in die skoonheid van die skepping, in die vriendelikheid van ander, en selfs in die uitdagings wat ek ervaar.
Amen.