TEKS: Johannes 20:27–28
Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na My hande; en bring jou hand en steek dit in My sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”
28 En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
TEMA: Jesus verskyn aan Tomas
BOODSKAP
Tomas beleef ’n krisis. Vir drie jaar volg hy Jesus van die een plek na die ander. Hy was selfs bereid om vir Jesus te sterf (Joh. 11:16). Maar toe sterf Jesus. Dit laat Tomas se lewe in duie stort. Tomas sonder homself af van die ander dissipels en mis so die eerste geleentheid om die opgestane Here te sien.
Natuurlik het Tomas almal se getuienis gehoor, onder andere Petrus en Johannes, wat die leë graf gesien het, en Maria, wat Jesus daar by die graf ontmoet het. Maar die dag toe Jesus aan die dissipels verskyn het, was hy nie daar nie. Dit is die rede waarom hy nie kon glo dat Jesus opgestaan het nie.
Al het die dissipels se getuienis al die gerugte wat die ronde gedoen het dat Jesus opgestaan het, bevestig, bly Tomas vasberade. Hy sal nie glo tensy hy bewyse het nie. En die bewyse wat hy soek, is om self te sien. Tomas weier om hulle te glo. Hy bly twyfel en stel voorwaardes voordat hy sou glo dat dit Jesus is.
Agt dae daarna, terwyl die dissipels weer bymekaar was agter geslote deure en Tomas hierdie keer by was, verskyn Jesus weer aan hulle. Daarom nooi Jesus Tomas met die woorde: “Bring jou vinger hier en kyk na My hande; en bring jou hand en steek dit in My sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”
Tomas sien Jesus en hy hou op twyfel. Nou roep hy met vreugde uit: “My Here en my God!” So bely Tomas dat Jesus die Seun van God is. Maar wat beteken dit: “My Here en my God”? Dit beteken dat die kruis Tomas se lewe verander het. Hy was beslis nie meer dieselfde mens as voorheen nie.
En baie van ons kan met Tomas identifiseer. Ek wil nie glo net omdat almal glo nie. Weet jy wat? Die Here verwag dit nie van ons nie. Hy wil juis hê dat ek en jy tot ’n persoonlike oortuiging kom. As jy ’n gelowige is wat twyfel as gevolg van moeilike omstandighede, as jy twyfel omdat jy seer het of hartseer is, maak soos Tomas: bring dit na die Here.
Die Here het nie vir Tomas weggejaag nie; inteendeel, Hy het hom in liefde omarm. Jou pad na God se arms is oop, omdat Hy jou twyfel verstaan en jou rus en vrede wil gee. Jesus jaag nie mense wat oor Hom twyfel weg nie. Gaan soek jou troos by Hom.
GEBED
Liewe Here
Ek kom na U toe met ’n nederige hart en vra U om my te vergewe vir my twyfel. Wanneer my geloof swak voel, help my om dieper op U te vertrou. Versterk my geloof en herinner my aan U konstante liefde en teenwoordigheid. Lei my terug na geloof en vul my weer met hoop.
Amen.