In hierdie week se dagstukkies gaan ons nadink oor die vrede van God se koninkryk en maniere waarop dit ons dring om die spanning en konflik van ons hede om te keer.
Tema: ’n Ander Koninkryk
Teks: Johannes 18:36
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
In die Bybelse tyd is alle mense se lewens bepaal deur wie die koning was en die invloed wat hy in die geografiese area (sy koninkryk) uitgeoefen het. Die mense binne hierdie ryk het hulle hiermee geïdentifiseer, en hulle moes dikwels teen iemand baklei wat hulle bestaan bedreig. Só het elke aardse koning en sy ryk net vir ’n kort tydjie bestaan, en is die begin en einde daarvan altyd deur oorlog bepaal. Vrede was die tydelike afwesigheid van oorlog — ’n gespanne wagtyd tussen konflikperiodes.
Binne elke koninkryk het dieselfde beginsel gegeld: die koninkryk is deur ’n paar mense met status, invloed en rykdom bestuur, terwyl die meerderheid van die bevolking as onderdane geleef het.
Jesus se prediking het gefokus op een enkele tema wat almal in die antieke wêreld geken het, naamlik die Koninkryk van God. Wat Jesus se prediking daaroor so boeiend gemaak het, was dat die beginsels daarvan radikaal anders was as dit waaraan die gewone mens blootgestel was. Dit het bestaande politieke, ekonomiese en sosiale waardes op hulle kop gekeer. In teenstelling met die koninkryke waarin hulle geleef het, het Jesus God se genade en barmhartigheid, wat mense se lewens verander, aan almal in die samelewing verkondig.
Hoe dink ons vandag oor God se koninkryk? Ons is nie onderdane wat geroep word om daarvoor te baklei nie. God het nie soldate nodig om dit te verdedig nie en is magtig om dit self in stand te hou. Dit strek oor die grense van kultuur, taal, geslag en nasionaliteit, soos Paulus in Galasiërs 5:6 sê: In Christus is hierdie dinge wat ons so hoog aanskryf nie van belang nie.
Wat is dus van belang? In die lig van persoonlike konflik en spanning, asook dié van ons huidige wêreld, is hierdie vraag van groot belang. Uit watter identiteit leef ons werklik?
Gebed
Here, U woorde: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” sny vandag diep deur my eie sekerhede. Ek leef so maklik asof hierdie wêreld my tuiste is — asof mag, status, vrees en beheer my werklikheid bepaal. En dan moet ek vra: In watter koninkryk leef ek werklik?
Laat my lewe vrae wek: Aan wie behoort ek? Wie se waarheid volg ek? Watter Koning dien ek?
Here, vorm my hart om nie vas te klou aan wat tydelik en sigbaar is nie. Wys my waar ek nog dink soos hierdie wêreld dink, waar ek nog reageer uit vrees eerder as geloof, uit selfbeskerming eerder as oorgawe.
Ek kies vandag weer U koninkryk, Here — nie net in woorde nie, maar in hoe ek leef, dink en liefhet.
Amen.