Dagstuk | Saterdag 25 April 2026

Dagstuk | Vrydag 24 April 2026
Dagstuk | Maandag 27 April 2026

 

Goeiedag! Vandag is ons by die sesde (en laaste) dagstukkie oor die wonderbare geluk waarvan Psalm 1 praat. Kom ons lees die Psalm weer

Gelukkig is die mens
wat nie die raad van goddelose mense volg,
nie op die pad van sondaars staan
en nie in die byeenkoms van spotters sit nie,

maar wat vreugde in die wet van die HERE vind
en sy wet dag en nag prewelend opsê.

So iemand sal wees soos ‘n boom
geplant langs watervore,
wat sy vrugte op sy tyd gee
en waarvan die blare nie verdor nie.
Alles wat hy aanpak, gedy.

So is die goddelose mense nie; inteendeel,
hulle is soos kaf wat die wind wegwaai.

Daarom sal goddelose mense nie staande bly
waar reg gespreek word,
of sondaars waar regverdiges byeenkom nie.

Ja, die HERE sorg vir die pad van regverdiges,
maar die pad van goddelose mense loop dood.

Tot sover uit die Psalm

*

Hierdie Psalm begin met die pad van sondaars, en eindig met die pad van sondaars, of te wel, goddelose mense. Die laaste vers wys vir ons waar die raad van die goddeloses en die sinisme van die spotters jou laat beland. Dit is nie ʼn paadjie wat op geluk uitloop nie.

Om werklik gelukkig te wees, moet jy God se woorde indrink soos ʼn boom wat die watervoor se water opslurp.

Ek het reeds daarop gewys dat die sondaars of goddeloses nie noodwendig lelike goed aanvang nie. Hulle is gewoonweg net die mense wat vir hulleself lewe in plaas van vir God. Hulle is die mense wat ten alle koste vir hulleself wil sorg. Ek het hulle sommer grypers genoem. Daarteenoor is die regverdiges mense wat gewers is, soos die die boom wat sy vrugte gee op sy tyd.

Die regverdiges, die gewers, die mense wat God se woorde onthou as hulle op die lewenspad loop is gelukkig omdat God sorg vir hulle pad. Dit is die geheim van sorgelose uitbundige geluk! God sorg vir my – my lewenspad strek van hier af tot in die ewigheid.

Daarteenoor loop die pad van die grypers, oftewel sondaars, goddeloses, dood. Die beeld wat in hierdie teks sit, is dié van water wat op sanderige grond in ’n dun stroompie vloei en dan uiteindelik sommer in die sand verdwyn.

Jy sal die raad van hierdie mense wat vir eie belang lewe, oral kry. Op TV en YouTube, in tydskrifte en sosiale media vertel hulle jou hoe om suksesvol te wees. Moet jou nie aan hulle steur nie!

*

Gebed

Here, vorm tog ons denke deur u Woord, dat ons die ware geluk kan hê en met insig vrugbaar kan lewe.