Tema: ’n Tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede
Teks: Prediker 3:8
“Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy vaste tyd: ’n tyd om lief te hê, ’n tyd om te haat, ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.”
Is dit werklik so? Is daar ’n tyd vir oorlog? Kan oorlog die vrede bring waaroor Jesus Christus met ons praat? Daar word deesdae baie gepraat oor ’n “just war” of ’n regverdige oorlog. Dit is wanneer daar ’n regverdige en geldige rede is om jouself of ander, byvoorbeeld, te verdedig. ’n Mens sou selfs kon aanvoer dat die teks uit Prediker dit regverdig, en dat daar werklik, soos met liefde, ook ’n tyd is om te haat.
Maar is liefde nie bedoel om haat te oorwin nie? Prediker se opmerking oor ’n tyd van oorlog en vrede, liefde en haat, tesame met die ander dinge wat in die teks genoem word, is ’n kommentaar op hoe mense se lewens verloop. Dit is in die indikatief geskryf en nie bedoel om as ’n imperatief gelees te word nie. Met ander woorde: dit is nie God wat voorskryf dat daar ’n tyd vir oorlog en vrede is nie, maar eerder Prediker wat beskryf hoe menslike werklikhede lyk en hoe mense optree.
Prediker is deel van die Bybel se wysheidsliteratuur wat ons juis wil inspireer om, in die lig van die lewe se uiterstes, wyse keuses te maak. In eergister se dagstukkie uit Johannes 18:36 maak Jesus dit baie duidelik dat sy koninkryk nie iets is waaroor ons oorlog voer nie.
Woede en die haat wat oorlog aan beide kante na vore bring, is emosies wat maklik by ’n mens opvlam en daartoe lei dat ’n volgende generasie dié blameer wat lewens geneem en bedreig het. Oorlog het nog nooit werklik gewen nie en sal ook nie — daarom verwerp Jesus die logika daarvan in Johannes 18.
Die alternatief is nie martelaarskap nie, maar het te doen met die versoening en rekonsiliasie wat ons ontvang deur deel te kry aan Jesus se lyding, sterwe en opstanding. Ek kom agter dat ons, in die lig van oorlog, konflik en spanning, baie maklik in informele gesprekke die feite teen mekaar opweeg om ’n kant te kies, maar selde praat oor die opsie wat Jesus se lewe, lyding, sterwe en opstanding — asook die gawe van die Heilige Gees — ons bied om anders te kies.
Gebed
In ’n wêreld waar konflik en verdeeldheid so maklik oorneem,
roep U my na ’n ander pad — ’n pad van vrede, van genade, van liefde wat sterker is as haat.
Leer my, Here, om nie vas te steek in die “tyd van oorlog” nie,
maar om ’n draer van U vrede te wees, selfs wanneer dit moeilik is.
Waar daar haat is, help my om nie terug te haat nie.
Waar daar konflik is, maak my ’n instrument van versoening.
Gee my wysheid om te onderskei wanneer om te staan teen onreg,
maar ook die genade om nie my hart te verhard nie.
Here, U koninkryk is nie gebou op geweld nie, maar op liefde wat selfs vyande omhels. Laat U vrede in my begin, sodat dit kan uitvloei na die wêreld om my.
Amen.