Tema: Geseënd is die vredemakers
Teks: Matteus 5:9. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
Die Saligsprekinge wat Jesus se bergpredikasie in Matteus inlei, help ons met die vraag hoe gelowiges in tye van druk en oorlog leef. Dit herinner dat ons in sulke tye die sout vir die aarde en lig vir die wêreld is. Wat ons doen, sê en dink moet van vrede getuig. Vrede is meer as die stilte en verlies as oorloë uiteindelik ophou en mense ongehinderd met hulle lewens kan aangaan. Vrede is nie wanneer een van die twee partye in ‘n oorlog, geveg of rusie wen nie. Die vrede waarvan Jesus praat gebeur nie buite gelowiges nie maar van binne soos toe Paulus in 2 Kor. 5:14 gesê het: Die liefde van Christus dwing ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En dan volg die teks wat ons vroeër die week gelees het dat ons van nou af dus niemand meer volgens menslike maatstaf beoordeel nie. Ek vermoed dat die seën van vredemaker lê in die diep en eenvoudige besef van God se genade vir ons eie lewe. Dis eers wanneer die Here die geraas en storms en oorloë in ons eie harte kom stilmaak dat ons met hierdie vrede na buite kan leef. Hiersonder bly ons altyd ontevrede. Mag ons daarom in ‘n tyd waarin die wêreld gefokus is op oorlog en die hoop van vrede op ‘n ander plek as die seestraat van Hormuz kyk. Mag dit vandag diep na jou toe deurdring as jy die stem van die Heilige Gees hoor wat die volgende sê … en dis ons gebed.
Wees stil en weet Ek is die Heer
Ek spreek en wind en golwe bedaar
Ek sal ook jou getrou bewaar
Wees stil en weet Ek is die Heer
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag
Ek is by jou, Ek gee jou krag
Wees stil en weet Ek is die Heer
Bly waak en bid, volhard in geloof
Ek is by jou soos Ek beloof