Goeiemôre, vriende. Dis Dinsdag 2 Junie. Ek is bly jy kan saam met my deel in die oordenkings van hierdie week. Ons lees tekste waarin ons met bome vergelyk word. Bome groei uit die kleinste saad, selfs so klein soos die mosterdsaad, het Jesus gesê. Ons is Jesus-bome in God se koninkryk.
Ons tema vandag is: Geloofswortels in Christus.
Tekslesing: Kol. 2:6-10
Vandag fokus ons veral op die onsigbare kant van ’n boom se lewe — sy wortels in die grond. In die Nuwe Testament skryf Paulus dat ons in Christus gewortel is. Hy is die grond van ons bestaan.
Geloofswortels begin groei wanneer ons die evangeliesaad, die evangeliewoord oor Jesus, glo. Deur ons geloofswortels is ons aan Christus verbonde, vas in Hom, die grond van ons lewe as koninkryksbome. Geloof in Christus is nie bloot ’n verstandelike instemming nie; dis ’n lewe in verbondenheid met Hom. Gelowiges se diepste identiteit is in Hom. Ons kan met dankbaarheid sê dat selfs sonde en dood ons nie meer uit Hom kan ontwortel nie. Ons het saam met Hom gesterwe en leef saam met Hom.
Paulus maan gelowiges in Kol. 2 om die fokus van ons geloof op ons verbondenheid met Christus te hou, en nie op allerhande ander dinge soos wetsvoorskrifte, teorieë en argumente wat nie uit Jesus se evangeliewoord ontkiem nie.
Dit was goed om te sien dat nie alle bome deur verlede maand se vloede ontwortel is nie. Dalk voel jy swak in die geloof en voel jou geloofswortels maar klein en vlak — maklik om uit die Jesus-grond ontwortel te word, soos bome in sterk wind en vloede.
Die goeie nuus, die evangeliewoord, is dat die Heilige Gees dit sy werk maak om geloof te versterk, geloofswortels te laat groei, sterk te maak en te verdiep. Beoefen geloofsgemeenskap met God deur gebed en oordenking van die ryke inhoud van die evangeliewoord. Doen dit ook saam met die geloofsgemeenskap, van wie Paulus in Galasiërs 3 skryf: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: In Christus Jesus is julle almal een.”
Gebed
Gees van God, lei mense tot geloofsverbondenheid met Christus. Versterk ons eie geloofswortels in Hom. Dankie vir die voorreg om in Christus te kan wees. Amen.