Dagstuk | Woensdag 3 Junie 2026

Dagstuk | Dinsdag 2 Junie 2026
Dagstuk | Donderdag 4 Junie 2026

Goeiemôre, vriende. Dis Woensdag 3 Junie. Baie welkom by vandag se oordenking. Ons lees hierdie week tekste wat ons vergelyk met bome in God se skepping. Ons het reeds saam gedink aan die evangeliewoord, die saad tot nuwe lewe in Christus. Ons het ook saam gedink oor ons geloofswortels, ons verbondenheid aan Hom, en hoe die Heilige Gees dit dieper en wyer laat groei.

Ons tema vandag is: Bome het water nodig.

Tekslesing: Ps. 1:1-3; Jes. 58:11; Jer. 17:7-8; Joh. 7:37-39.

Waar daar water is, kan daar lewe wees. Selfs in die dorre Sahara-woestyn is daar groen bome waar ondergrondse riviere in fonteine bo die oppervlak opborrel. Ook in ons land is die groen strook bome langs die Oranjerivier opvallend waar dit deur die dikwels dorre Noordweste kronkel.

Tydens die weeklange Huttefees in Israel het mense doelbewus dors gely om die swaarkry van hul voorouers in die woestyn op pad na die beloofde land te herdenk. Jesus openbaar Homself dan deur te sê dat daar by Hom oorvloedige water is — meer water as wat hulle dors kan les. Daarmee, skryf Johannes, het Jesus na die werking van die Heilige Gees verwys, dieselfde Gees wat soos oorvloedige water op Pinksterdag uitgestort is en voortdurend daarna.

Ek sien dat mense hul tuine vroegoggend natmaak voor ’n baie warm dag. Saans word die tuine dan ook met ’n vinnige watersproei verfris. Dit alles maak dat die blare nie verwelk nie en die plante makliker oorleef.

Wanneer die hitte en swaarkry van die lewe soos ’n te warm son op jou bak en jou uitmergel, kan die Heilige Gees jou soos water verfris en versterk. Selfs wanneer jou lewe soos ’n barre woestyn voel, kan die Gees wonderbaarlike fonteine laat opborrel, soos in die Sahara-woestyn.

Stoot altyd jou geloofswortels uit na die stroom, soos Jeremia gesê het — na die Heilige Gees, die stroom lewegewende water wat in jou as gelowige vloei. Hoe doen ’n mens dit? Vernuwe jou kontak en jou gemeenskap met God. Spandeer tyd met Hom deur gebed en sy Woord om die oorvloedige teenwoordigheid van die Gees te beleef. Omring jou met mense wat ook in die geloof lewe, soos Psalm 1 vra.

Gebed

Here Jesus, dankie vir geloofsgenote in ons lewens. Gees van God, ons stoot weer ons geloofswortels uit na U. Hou ons geloofswortels in Christus nat, veral in die swaarkry en dorre tye van ons lewens. Dankie dat U geloofswortels laat groei en dit ook nat hou sodat ons in Christus kan bly lewe. Amen.

Mooi dag en week vir jou verder. Van môre af oordink ons die waarde wat ons as Jesus-bome vir ander om ons kan hê.