Dagstuk | Vrydag 5 Junie 2026

Dagstuk | Donderdag 4 Junie 2026
Dagstuk | Saterdag 6 Junie 2026

Goeiemôre, vriende. Dis Vrydag 5 Junie. Baie welkom by vandag se oordenking. Dis die begin van die naweek, aan die einde van ’n week waarin baie van julle dankbaar is vir rusplek en rustyd ná ’n vermoeiende week — soos wat voëls kon rus vind op die takke en tussen die blare van die mosterdboom.

Ons tema vandag is: Vrugtebome in God se koninkryk.

Tekslesing: Joh. 15:4-5; Gal. 5:22-25; Rom. 7:4.

Vrugtebome het ook takke en blare wat suurstof, rusplek, skuilplek en nesmaakplek bied. Maar die vrugte dien boonop as voeding vir mens en dier. Die kleure van die vrugte aan vrugtebome wil juis aantreklik wees — ’n uitnodiging om te pluk en van die vrugte te leef.

In Christus is ek en jy vrugtebome in God se koninkryk. Wat ons anders maak as gewone vrugtebome in die natuur, is dat ons baie soorte vrugte aan ons lewensboom dra. Die samebindende vesel van al hierdie vrugte is die liefde wat die lewe en behoeftes van ander raaksien, daarna vra en daarin voorsien.

Mense kan as’t ware gevoed word, gesond word en lewe uit ons vreugde- en vrede-vrug in Christus. Dit help teen onvergenoegde gekla en veglustigheid. Mense kan lewe uit die vrugte van geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in ons lewe. Só leef ander uit ons liefde, omdat ons nie net vir onsself en ons eie belange leef nie.

Wanneer mense in die natuur klaar geëet het aan ’n vrug, val die pitte met sade weer grond toe. Die saad ontkiem mettertyd weer op ander plekke, en só sorg die boom ook vir ’n volgende geslag. Soos bome leef ons ook nie net vir ons eie geslag nie, maar ook ter wille van komende geslagte wat die evangelie van Jesus Christus moet hoor.

Paulus noem die vrugte van ons geestelike lewe in Christus vrugte van die Gees. Daarom skryf hy in Galasiërs 5:25: “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”

Gebed

Here Jesus, ons wil in U bly sodat ons baie vrugte kan dra. Heilige Gees, vervul ons met liefde om vrugbare lewens te kan lei. Amen.

Mooi naweek vir julle. Mag dit ook ’n tyd van rus wees ná die vermoeidheid van die week. Môre oordink ons snoeiwerk aan God se bome.