Baie geluk, Marius – dit is ’n groot mylpaal

’n Leeftyd se soet en sout saam met Stellenberg-gemeente

Baie geluk aan dr. Marius Breytenbach wat onlangs met ’n PhD-graad in Argeologie bekroon is. Stellenberg-weekliks het hom meer oor die interessante studierigting  uitgevra.

Toe ek in graad twee was, het ons reg oorkant die ingang van die historiese plaas Vergelegen in Somerset-Wes gewoon. Die plaas was destyds nog in private besit. Ek het gereeld onwettig ingesluip om die indrukwekkende gewelplaashuis, wat aan die begin van die agtiende eeu aan goewerneur W.A. van der Stel behoort het, te gaan besigtig.

Van lees, leer en skool het ek min gehou; ek het eerder die vryheid verkies om te verken en dinge self te ervaar. Min het ek geweet dat ek die grootste deel van my lewe wat voorlê aan studie en lees sou wy.

Nadat ek my meestersgraad in Teologie (Ou-Testamentiese Studie) voltooi het en in die bediening begin werk het, het my nuuskierigheid en belangstelling in argeologie gegroei. Ek het Israel en Turkye verskeie kere besoek en verken en was bevoorreg om in 2012 en 2014 deel te wees van ’n groot internasionale argeologiese projek by Tel Azeka in Israel. Dit is die plek waar die verhaal van Dawid en Goliat afgespeel het.

Ek wou egter graag ’n wyer veld as slegs Bybelse argeologie verken. Daarom het ek, ná drie jaar se voorgraadse studie in Argeologie, my honneursgraad deur Unisa voltooi en daarna ’n meestersgraad in Argeologie aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Só het ek as argeoloog gekwalifiseer.

Beide tesisse wat ek vir hierdie studie ingehandig het, was gefokus op die plaashuis van Blaauwbergsvallei, wat tydens die Slag van Blaauwberg in 1806 as veldhospitaal gedien het. Daar is baie oor hierdie belangrike veldslag geskryf, waartydens Brittanje formeel besit van die Kaap geneem het, maar die presiese ligging daarvan was toe nog nie deur argeologiese navorsing geïdentifiseer nie.

My PhD-studie aan Unisa was daarop gemik om die vroegste plase in die landelike gebiede van die Kaap te laat herleef en het op die hele Tygerberg-omgewing gefokus. Ongelukkig het daar bykans niks van daardie tyd op die plase behoue gebly nie. Daarom het ek ’n innoverende metodologie ontwikkel om, vanuit die landskap en historiese dokumente – ’n benadering bekend as landskapargeologie – die mense van die verlede en hul leefwyse weer sigbaar te maak.

Argeoloë stel belang in die beskrywing en verklaring van kultuurveranderinge. Hierdie ingesteldheid het ’n groot invloed gehad op die wyse waarop ek die Bybel die afgelope jare benader en verstaan het. Dit het as’t ware die Woord op papier vir my nuwe lewe gegee en dit relevant gemaak vir my hede.

Met die voltooiing van my doktorsgraad bevind ek my op ’n baie interessante en onverwagte plek. Ek weet nou met sekerheid dat ek minder weet as wat ek gedink het ek weet. En net wanneer ek dink genoeg is genoeg, pak die nuuskierigheid my weer om van voor af te begin verken.

My studie in argeologie het my in aanraking gebring met wonderlike nuwe plekke, merkwaardige mense en die ontdekking van kosbare dinge wat nog altyd reg voor ons oë was, maar vir so lank verborge gebly het.

Dit voel vir my asof ek, ná die einde van my bediening, nou eers werklik begin verstaan hoe God my roep. Ek geniet die eenvoud van my bediening nou meer as ooit tevore.