Dagstuk | Maandag 22 Junie 2026

Dagstuk | Saterdag 20 Junie 2026
Dagstuk | Dinsdag 23 Junie 2026

Wat is mooi in die lewe?

Ek en ’n paar vriendinne het onlangs die Knorhoek-staproete gedoen. Wat ’n pragtige roete was dit nie! Op die roete, terwyl ons stap, merk ek op hoe gereeld ons vir mekaar gesê het: “Kyk hoe mooi is dit. Kyk hoe mooi is dat.” Terwyl ons stap, wys ons vir mekaar die mooi berge, pragtige bome met herfskleure, die son wat speels deur die bome skyn, en die plantasies waardeur ons stap. Alles is net so mooi vir ons, en dit was ’n besondere belewenis.

Dit het my daaraan laat dink dat daar ook nog mooi dinge in die lewe is. Ek wil jou hierdie week nooi om saam met my weer op die mooi dinge in die lewe te fokus.

Tema: Dit Is mooi wanneer daar liefde is

TEKS: 1 Korintiërs 13:4–8

“Die liefde is geduldig; die liefde is vriendelik …”

Boodskap

Liefde is nie net ’n teorie of lering wat jou inspireer nie; dit is eg en prakties. Liefde kan gesien en gevoel word, en dit het ’n wonderbaarlike krag om lewens te verander.

Liefde is die grootste gebod. God maak dit reeds in die Ou Testament bekend, en Jesus leer ons daarvan in die Nuwe Testament. Geen mens kan sonder liefde leef nie. Jy het God se liefde nodig. God het uit liefde sy Seun na jou gestuur. Jesus het uit liefde vir jou aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan.

Daarom is liefde die mooiste uitdrukking van God se karakter. Waar opregte liefde bestaan, word God se skoonheid sigbaar. Daarom is dit ook so mooi wanneer ons as mense werklik opreg lief is vir mekaar en in liefde saamleef. Tog weet ons dat ons in ’n gebroke wêreld leef en dat hierdie mooi liefde nie altyd oral sigbaar is nie.

Liefde bly egter ’n belangrike opdrag vir ons as mense, veral vir ons wat onsself kinders van God noem. Terwyl elke opdrag van God groot en belangrik is, het Jesus gesê dat die grootste en belangrikste van alles is dat ons in liefde moet wandel. Ons moet God liefhê en mense liefhê soos onsself. Hy het ook gesê dat dit deur hierdie liefde is dat die wêreld sal weet dat ons sy dissipels is (sien Johannes 13:35).

Jou naaste het liefde nodig, omdat jou naaste saam met jou in ’n stukkende wêreld leef. Ons kan dus weer die mooi van liefde sigbaar maak in die wêreld deur mekaar lief te hê en dit prakties te wys waar mense dit nodig het.

GEBED

Dankie vir die wonderlike gawe van liefde. Dankie dat U ons geskep het om in harmonie, vriendelikheid en deernis met mekaar te leef. Wanneer ons kies om lief te hê, weerspieël ons U hart en bring ons lig in ’n wêreld wat dikwels na hoop en begrip verlang.

Wanneer ons mekaar liefhet, word gesinne versterk, vriendskappe verdiep en gemeenskappe verander. Laat U liefde deur ons vloei sodat ons instrumente van vrede, eenheid en vreugde kan wees, waar ons ook al gaan.

AMEN