Dagsê!
Ons is hierdie week besig om oor die verlossende betekenis van die “Ons Vader”-gebed na te dink.
Ek wil vandag se meditasie begin met ‘n stukkie nostalgie. Toe ek kind was, het my ma en haar susters, as hulle saam in die plaaskombuis was om die Kersete voor te berei, almal tegelykertyd sonder ophou gepraat. Hulle het gedink hulle gesels, maar ek het ‘n vermoede gehad dat hulle nie eintlik na mekaar geluister het nie. Elkeen was te besig om haar opinies uit te spreek; daar was nie nog tyd oor om na die ander te luister nie. Ek kon bittermin uitmaak van wat gesê is. Maar een woord wat een van my tantes male sonder tal gebruik het, was die woord “Dinges”. Dinges was haar naam vir enige mens wie se naam haar op daardie stadium ontglip het. Ongelukkig het feitlik almal se name haar voortdurend ontglip, sodat jy ‘n hele relaas oor ‘n klomp mense wat as Dinges bekend gestaan het, kon aanhoor.
Dinges werk goed as jy nie die persoon wat so genoem word, se aandag probeer trek nie. Gestel jy is tydens die basaar op die dorp en wil Oom Piet roep om die pot kerrieafval nader te bring. Hy sal nie reageer nie, al roep jy hoe hard na Dinges. As jy “Oom Piet” roep, reageer hy. Om dan Oom Piet se naam te onthou, is ‘n genade!
Net so is dit genade om God se Naam te ken! Daarmee kan ons sy aandag trek. Daarmee kan Hy weet jy praat met Hom. Israel het presies verstaan hoe ‘n geweldige geskenk dit was dat hulle God se Naam kon ken.
Maar juis daarom was dit so belangrik dat hierdie Naam opgepas word. As jy ‘n skoon, skerp naald nodig het om ‘n splinter uit jou hand te grawe, gaan jy hom nie eers gebruik om jou naam op ‘n stuk klip te probeer graveer nie. Jy pas hierdie naald op. Hy het ‘n kosbare doel. Dit is wat die woord heilig beteken. Dit beteken nie “sonder sonde” nie. Dit beteken opsygesit vir gebruik in die teenwoordigheid van God. Daarom was die tempelgereedskap heilig. Jy het nie met die vurk by die altaar in jou tuin gaan spit nie.
As ons as mense God se Naam as kragwoord gebruik, hoe moet God later weet om te luister wanneer jy bid? Dalk dink Hy jy is maar net weer besig om te vloek en druk Hy, by wyse van spreke, sy ore toe! Dit sal ‘n ramp wees.
Dus moet dit ons eerste bede, ons diepste sorg, wees: Here, help ons dwase mense om u Naam heilig te hou. Here, help ons om u Naam so te gebruik dat, as ons dit uitspreek, U sommer dadelik sal weet dat dit met U is wat ons praat! Want dit is ons verlossing, ons versorging, ons geluk, ons lewe wat tot in ewigheid op die spel is.
Kom ons bid nou saam:
“Ons Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word.
Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood.
En vergeef ons ons skulde
omdat ons ook hulle vergeef het
wat teenoor ons skuldig staan.
En bring ons nie in versoeking nie,
maar red ons van die Bose.
Want aan U behoort die koningskap,
die mag en die majesteit
tot in ewigheid!
Amen.”