Dagstuk | Maandag 28 Julie 2026

Dagstuk | Dinsdag 28 Julie 2026
Dagstuk | Woensdag 29 Julie 2026

Ons Vader wat in die hemele is

Dagsê, liewe medegelowige.

Hierdie week wil ek graag saam met u mediteer oor die gebed wat die Here Jesus vir ons geleer het. Die gebed wat bekend staan as die “Ons Vader”, of, soos die meeste van ons wat ouer is dit uit vroeëre vertalings onthou, die “Onse Vader”-gebed. Dit is loshande die bekendste en belangrikste gebed wat ’n mens ooit kan bid.

As u oor hierdie gebed mediteer, soos wat ons hierdie week ’n bietjie wil doen, kom u agter dat geen gebed wat u kan bid, beter of belangriker as hierdie gebed is nie. Die Duitse teoloog Helmuth Thielicke het die gebed die “gebed wat die wêreld omspan” genoem. Ek wil daarby voeg: nie net ons groot wêreld nie, maar ook ons klein en dikwels onbeduidende wêreldjies word daardeur omspan.

Tog het ons ’n ietwat onverstaanbare verhouding met die Onse Vader. Ons bid dit by spesiale plegtighede, en in ons vroom oomblikke erken ons dat dit die modelgebed is wat Jesus vir ons kom leer het. Maar vir alle praktiese doeleindes bly hierdie modelgebed op die rak staan. Ons het immers soveel dinge wat ons dringend wil hê; soveel begeertes wat vervul moet word; soveel banghede wat besweer moet word. En boonop is ons nog haastige, besige mense ook. Ons het nie baie tyd om rustig in gebed deur te bring nie.

Ons is soos kinders wat op universiteit is en skaars tyd het om met Pa en Ma te gesels of hulle te bel; ons stuur maar net ’n WhatsApp of ’n stemboodskap met ons grootste behoeftes. Natuurlik vind Pa en Ma hierdie stemboodskappe nie bevredigend nie. Hulle verlang mos na ’n gesprek met die kind. Hulle wil hoor van die kind se behoeftes, maar hulle wil meer wees as blote verskaffers van dienste of goedere.

As die kind maar ook kon besef dat daar ’n groter vervulling in die gesprek sou lê as wat die antwoord op spesifieke behoeftes kan regkry, sou sy tyd maak om met haar ouers te gesels. Om net ’n “verhoring” as beloning vir gebed te kry, is mos maar ’n klein deeltjie van die skatte wat gebed inhou! Maar ons is so dom en sonder insig dat Jesus dalk oor ons ween soos Hy destyds oor Jerusalem geween het. “As hulle maar geweet het,” het Hy volgens Lukas 19 gekla. Luister Hy na ons gebede met hartseer omdat ons nie weet nie, nie insig het nie? Dalk bid ons die Onse Vader so min omdat ons nie insig het in die skatte wat dit uitdeel nie! Dalk is ons lewe so gejaagd omdat ons dit nie toelaat om sy kalmte in ons harte in te plant nie.

Ons is soos mense wat die deur na die lewe vinnig probeer oopsluit met ons koffer se sleuteltjie, terwyl Jesus die ware sleutel van die deur na ons uithou.

Dis hoekom dit nodig is dat ek in die volgende paar dae ’n bietjie met u gesels oor die troos en geskenke wat in hierdie gebed opgesluit lê. Daarmee begin ons môre. Kom ons bid nou die gebed saam.

“Ons Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word.
Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons daaglikse brood.
En vergeef ons ons skulde,
omdat ons ook hulle vergeef het
wat teenoor ons skuldig staan.
En bring ons nie in versoeking nie,
maar red ons van die Bose.
Want aan U behoort die koningskap,
die mag en die majesteit
tot in ewigheid!
Amen.”