Goeiemôre, vriende. Dis Maandag 17 Augustus. In ons dagstukkies tot Saterdag gaan ons Bybeltekste lees oor wilde voëls in God se skepping.
Ons tema vandag is: God sorg vir die wilde voëls.
Tekslesing: Matteus 6:25-27.
Die wilde voëls het ’n opmerklike onbesorgdheid oor die dag van môre. Hulle maak nie bymekaar vir môre of vir die winter nie. Hulle bou nie kosvoorrade op soos die miere nie; hulle bou nie skure vir oeste soos wat mense doen nie. Die wilde voëls mag maar so leef, want God het hulle so gemaak. Hy sorg vir hulle soos wat hulle is. Selfs al vlieg hulle elke dag vir kos en pyl daarop af, is dit ten diepste die hemelse Vader wat vir hulle sorg, dag na dag.
Wanneer Jesus dan met sy dissipels praat, sê Hy: “Julle hemelse Vader sorg ook vir julle soos vir die wilde voëls.” Hy vra wel van ons wat Hy nie van die wilde voëls vra nie, en dit is om te bid: “Ons Vader wat in die hemel is, gee ons vandag ons daaglikse brood.” Jesus leer ons om dag na dag, elke dag opnuut, in vertroue, in afhanklikheid van Hom te lewe. Ons mag skure bou vir die oeste, ons mag geld wegsit vir môre of vir die oudag, maar ons mag nooit ons daaglikse afhanklikheid van ons hemelse Vader vergeet nie.
Kyk na die wilde voëls, dink aan hul onbesorgdheid oor môre, aan hul kommerloosheid en vrede, al het elke dag genoeg van sy eie kwaad, soos Jesus sê.
Wanneer die kommer en angstigheid in jou hart kom nesmaak, bid ook daaroor. Paulus skryf in Filippense 4:6: “Wees oor niks besorgd nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
’n Graad 7-dogter het by geleentheid in ’n groep gesê: “’n Mens moet net jou bes doen en op die Here vertrou.” Inderdaad. AMEN.
Gebed:
Here, ons bely vanoggend weer opnuut: U sorg vir ons. Ons tye en ons lewens is in U hande. Uit U versorgende hand wil ons onsself versorg en andere versorg. Ons bely dat ons dikwels so selftevrede is met wat ons het en is, dat ons nie genoegsaam ons afhanklikheid van U erken nie. Gee ons vandag en elke dag ons dag se brood.
Ons bely ook dat ons nie genoegsaam ons kommer en angstigheid en begeertes met U deel nie. Gee vir ons vrede en voorsien op U tyd en U manier aan ons.
Goed gaan, vriende.